Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Covid-19 laat Rabada diep dink

Hy is dalk een van die wêreld se voorste krieketspelers, wat kolwers soms met sy vurigheid intimideer, maar in die tyd van die Covid-19-pandemie is Kagiso Rabada gedwing om stil te sit en bestekopname van sy loopbaan te neem.

Kagiso Rabada in Januarie in aksie teen Engeland in Port Elizabeth. Foto: Getty Images

Dié 24-jarige snelbouler van Suid-Afrika word soos die meeste mense wêreldwyd gedwing om by die huis te bly – wat baie tyd bied om dinge in perspektief te plaas.

“Dit is ’n verandering aan ingesteldheid meer as enigiets anders. Ek het tyd om bestekopname te neem en te evalueer waar my loopbaan is – iets waaroor ek baie dankbaar is,” het Rabada in ’n gesprek met Total Exposure gesê.

“Die slegste ding wat jy in hierdie tyd van beperkte beweging en onsekerheid kan doen, is om te stagneer. Ek hou my gedagtes aktief en dink dat ek sterker as voorheen sal wees as gevolg van die feit dat ek kan assesseer waar ek in my lewe is.”

Dié Johannesburger van geboorte, wat met 197 slagoffers in 43 toetse spog, erken die nuwe leefwyse van inperking is ook vir hom ’n aanpassing. Hy vertel dat dit hom egter ook tyd gegee het om by dinge uit te kom wat hy voorheen in sy besige skedule afgeskeep het.

“Dit is nogal ’n radikale verandering van waaraan ek gewoond is, veral in terme van die fasiliteite om te oefen. Met die instruksie van selfisolasie oefen ek tuis en doen wat ek kan om aktief en gesond te bly,” sê Rabada.

“Ek herstel ook van ’n ligte besering en die rehabilitasie gaan voor die wind. Ek is bly dat ek meer tyd gegun word sodat ek 110% fiks kan wees wanneer ek ’n terugkeer maak.”

Hy sê hy kry baie tyd om te ontspan en dinge te doen waarby hy nooit uitkom nie.

“Ek speel musiek en het onder meer aan ’n paar liedjies gewerk. Ek speel ook Playstation aanlyn met vriende, bestee tyd saam met my familie en kyk flieks op Netflix saam met my broer.”

Rabada het ook onlangs ’n podsending, met Covid-19 as tema, saam met ’n goeie vriend gedoen.

“Dit beskryf dit waarin ons ons bevind. Dit is wonderlik om al hierdie dinge te doen,” sê hy.

“Ek bestee ook tyd op sosiale media en het pret gehad deur met ondersteuners op Twitter te gesels – iets waarvoor ek altyd dankbaar is.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Krieket  |  Kagiso Rabada  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.