
Agt spelers van Pakistan se krieketgroep wat tans in Nieu-Seeland toer, is positief vir Covid-19 getoets. Foto: Getty Images
Nog ’n lid van Pakistan se krieketgroep, wat tans in Nieu-Seeland in kwarantyn is voor ’n reeks teen die Kiwi’s, is positief getoets vir Covid-19.
Nieu-Seeland se gesondheidsdepartement het Woensdag gesê dat agt lede van dié toergroep nou die koronavirus onder lede het.
Luidens ’n verklaring deur die departement sal die span nie toegelaat word om te oefen totdat gesondheidsowerhede in Canterbury tevrede is dat Pakistanse spanoefeninge nie ’n risiko skep vir die verspreiding van Covid-19 nie.
Die spelers sal almal Sondag weer getoets word.
Nieu-Seeland speel van Donderdag af in die eerste van twee toetse teen die Wes-Indiese Eilande waarna Pakistan in drie T20-stryde en twee toetse aangedurf gaan word. – Reuters