
Dané van Niekerk is een van verskeie Proteas, wat van aanstaande maand af in die Big Bash-krieketreeks in Australië in aksie sal wees. Foto: Gallo Images
Reisbeperkings tussen die Australiese state weens die Covid-19-pandemie het die organiseerders van vanjaar se Big Bash League vir vroue (WBBL), ’n gewilde T20-reeks Doer Onder, genoop om alle kragmetings in Sydney aan te bied.
Volgens Krieket Australië sal al 59 wedstryde van die toernooi, wat op 25 Oktober begin, in Australië se grootste stad beslis word.
Dit is vanjaar die sesde seisoen van die WBBL en verskeie Proteas sal ook daar in aksie wees.
Mignon du Preez (Melbourne Stars), Shabnim Ismail (Sydney Thunder), Marizanne Kapp (Sydney Sixers), Lizelle Lee (Melbourne Renegades), Chloe Tryon (Hobart Hurricanes), Dané van Niekerk (Sydney Sixers) en Laura Wolvaardt (Adelaide Strikers) sal almal hul slag vir hul onderskeie franchises wys.
Die volledige wedstrydprogram en gasheerstadions vir die liga sal eers later bekend gemaak word. – Reuters, Sportredaksie