Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
DA eis antwoorde van krieketbase
Darren Bergman, ’n parlementslid van die DA.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad het weliswaar die groen lig gegee vir Suid-Afrika se T20-glansliga om voort te gaan, maar die DA eis steeds antwoorde van dié beheerliggaam oor sy hantering van verskeie kwessies wat die beplanning vir die liga betref.

KSA het ná sy jaarvergadering die afgelope naweek aangekondig dat sy beplande T20-glansliga wel in November en Desember kan plaasvind. Die beheerliggaam se raad het sy amptenare tot 15 September gegee om kontrakte met uitsaaiers en borge te sluit.

Darren Bergman, ’n LP van die DA en ’n lid van die portefeuljekomitee oor sport en ontspanning, het Sondag in ’n verklaring gesê die DA eis steeds antwoorde van KSA.

“Die DA sal ’n brief aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor sport en ontspanning (Beauty Dlulane) stuur om ’n vergadering tussen KSA, SuperSport en die komitee op te stel,” sê Bergman in die verklaring.

Volgens Bergman het Suid-Afrika beslis ’n T20-glansliga nodig, maar hy is skepties of KSA die regte span het om só ’n liga op die been te bring.

Suid-Afrika sou verlede jaar reeds so ’n liga, die T20 Global League, op die been bring, maar ’n verskeidenheid kwessies – onder meer die gebrek aan ’n uitsaaier – het daartoe gelei dat die liga tot vanjaar uitgestel is.

Vanjaar het KSA en SuperSport in ’n vennootskap getree om die liga op die been te bring, maar SuperSport het verlede maand kop uitgetrek as finansiële vennoot. Die uitsaaier was glo skepties oor die toekoms van die toernooi.

Die voortsetting van die toernooi is toe in onsekerheid gedompel voor die naweek se aankondiging dat dit wel sal voortgaan.

Bergman is egter nie oortuig nie. Hy sê die DA het op 27 Junie reeds ’n brief aan die minister van sport, Tokozile Xasa, gestuur waarin vrae oor die beplande toernooi gerig is. Die minister het glo nie op die brief gereageer nie.

“Die DA glo kosbare tyd word gemors om te verseker dat ’n toernooi van wêreldgehalte betyds begin word,” lui die verklaring.

Bergman skryf dat hoewel politici nie by sport moet inmeng nie, dit onverantwoordelik van die komitee sal wees om nie verskeie vrae aan KSA te rig nie.

* Die vrae is:

Thabang Moroe, die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

1. Hoekom wil KSA die toernooi op die been bring voordat hy voor die portefeuljekomitee verskyn het?

2. Hoekom was SuperSport eers huiwerig om die uitsaairegte te bekom? Hoekom het hy later wel besluit om die toernooi uit te saai? Hoekom het hy toe later van die vennootskap onttrek?

3. Was die minister op enige manier betrokke by die onderhandelings?

4. Hoekom sou KSA die formaat van agt na ses spanne verander as hy ander eienaars het wat belangstel?

5. Het KSA ’n sterk genoeg administratiewe span om so ’n toernooi aan te bied, veral as ’n mens die onstuimighede in die KSA-raad van die laaste tyd in ag neem?

6. Was daar aanbiedinge van buite om te help? Waarom is dié aanbiedinge van die hand gewys?

7. Kan ’n toernooi soos dié help om die huidige T20-reeks te ondersteun en om waarde toe te voeg met betrekking tot ontwikkelende spelers?

“Slegs bevredigende antwoorde tot hierdie vrae kan ons help om so ’n groot toernooi te ondersteun, waar reputasies op die spel is.

“Die huidige tekort aan kommunikasie en antwoorde laat my wonder of ons nie ons spelers uitstuur om sonder kolwer en kopskerms teen die gevaarlikste snelboulers te kolf nie,” skryf Bergman.

KSA het Maandag gesê hy kan nie kommentaar lewer nie, want hy het nog nie enige korrespondensie van die DA of die portefeuljekomitee ontvang nie.

Meer oor:  Parlement  |  Darren Bergman  |  Ksa  |  Da  |  T20 Global ­League
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.