Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Smith kon soveel vir jonges beteken’

Dis ’n reuseverlies vir Krieket Suid-Afrika (KSA) dat Graeme Smith besluit het om hom aan die wedloop vir die pos as direkteur van krieket te onttrek, sê Dale Steyn.

Dié snelboul-koning het vir tien jaar onder Smith se kapteinskap in die Protea-toetsspan floreer. Hy praat dus uit ervaring en met gesag as hy sê Smith se teenwoordigheid sou die land se jong krieketspelers baie gebaat het.

Dale Steyn is sover een van die Cape Town Blitz se uitblinkers. Foto: Gallo Images

Smith het verlede week gesê hy het nie die gevoel gekry dat KSA hom die nodige vryheid en ondersteuning sou bied om die nodige veranderinge aan te bring nie.

Daar is die naweek berig KSA se gesloer in sy kommunikasie met Smith het dié oudkaptein laat besluit om die hasepad te kies.

Dit is maar slegs die jongste in ’n ellelange lys van KSA-mistastings in die raadsale die laaste jaar of wat.

Op die veld sukkel die Proteas ook, maar Steyn sien nietemin lig aan die einde van die tonnel. Hy maan egter dat legendes soos Smith eenvoudig betrek móét word.

“Ek dink nie die gehalte van krieket in Suid-Afrika is kommerwekkend nie,” het dié 36-jarige veteraan Sondag gesê nadat hy die Cape Town Blitz tot ’n MSL-oorwinning oor die Durban Heat gehelp het.

Ek dink nie die gehalte van krieket in Suid-Afrika is kommerwekkend nie.
Dale Steyn

“Vandag het ’n jong speler na vore getree van wie ek in my lewe nog nooit gehoor het nie en amper ’n honderdtal geslaan.”

Wihan Lubbe het 83 van 42 balle vir die Heat gemoker en die tuisspan so byna tot ’n oorwinning gehelp, voordat Steyn hom uitgekry het.

“Ek weet nie waar kom al die praatjies vandaan dat krieket in die land in die moeilikheid is nie. Daar sal altyd goeie krieketspelers wees wat deurkom in Suid-Afrika.

“Die belangrike deel is om goeie afrigters in die stelsel te hou en senior spelers wat die stelsel verlaat (te betrek). Ek praat nie van myself of Hashim (Amla) nie, maar voormalige senior spelers.

“Probeer om hulle in die stelsel te hou, dan kan hierdie jong ouens soos Wihan Lubbe en die tonne ander name by hulle leer.

Ek weet nie waar kom al die praatjies vandaan dat krieket in die land in die moeilikheid is nie.
Dale Steyn

“Dit is jammer Graeme het aan die wedloop onttrek, want hy is ’n rolmodel en ikoon in die krieketwêreld. Baie van die jong ouens sou uitgesien het om onder hom te werk.

“Dit is jammer, maar ons druk altyd deur. Ons sal oukei wees.”

In Smith se afwesigheid bly daar drie kandidate vir die pos oor – Dave Nosworthy, Hussein Manack en Corrie van Zyl. Dit is nog onduidelik wanneer KSA ’n aankondiging gaan maak oor wie die pos voortaan gaan beklee.

Die direkteur van krieket moet die nuwe Protea-spandirekteur aanstel en met die proses wat só sloer, blyk dit of Enoch Nkwe as die waarnemende spandirekteur kan aanbly, minstens vir die reeks teen Engeland.

Hoewel hy nie as ’n baadjiedraer gaan werk nie, is Steyn dalk een van die ervare spelers wat met die oorgangsfase kan help. Hy het vroeër vanjaar sy uittrede uit toetskrieket aangekondig, maar is steeds in witbalkrieket vir die Proteas beskikbaar.

As sy huidige spelpeil in die MSL ’n aanduiding is, is hy nog lank nie klaar paaltjies platgetrek nie.

Steyn is die gesamentlike voorste paaltjievraat in die reeks, met ses slagoffers. Hy staan ’n skaflike 7.25 gemiddelde lopies per boulbeurt af.

Die T20-Wêreldtoernooi, wat in Oktober en November 2020 in Australië beslis word, kan moontlik sy laaste hoera vir die Proteas wees.

Sy teenwoordigheid in die span sal Faf du Plessis, die Protea-kaptein, se las veel ligter maak.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Graeme Smith  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.