Dale Steyn het die Nieu-Seelandse krieketkommentator Simon Doull op Twitter aangevat nadat dié oud-speler in ’n regstreekse uitsending van ’n wedstryd in die Pakistanse Premierliga (PSL) gesê het dat Steyn se nuwe haarstyl straks op ’n middeljarekrisis dui.

Dale Steyn is knorrig vir die kommentator Simon Doull. Foto: Getty Images

Die Nieu-Seelandse TV-kommentator Simon Doull. Foto: Getty Images
Steyn, wat vir die Quetta Gladiators in die PSL speel, dra sy hare deesdae skouerlengte. Doull, ’n gewese Kiwi-naatbouler, het sy gewraakte uitlating Vrydag tydens ’n wedstryd tussen Quetta en Peshawar Zalmi gemaak.
Die kameras het gefokus op Steyn wat in die kleedkamer sit.
“ ’n Middeljarekrisis met daardie hare,” het Doull, moontlik grappenderwys, gesê.
Doull se mede-kommentator, die gewese Engelse kolwer David Gower, het gereageer: “Inperking-hare”.
Die 37-jarige Steyn het duidelik nie gedink Doull is snaaks nie.
Hy wou Saterdag op Twitter weet watter kommentator het gesê hy dat hy in ’n middeljarekrisis is. Sommige Twitter-gebruikers het toe ’n videogreep van die uitlating geplaas.
Steyn het toe weer getwiet: “As jou werk is om oor die spel te praat, doen dit dan. Maar as jy daardie lugtyd gebruik om iemand aan te val oor hul gewig, seksuele voorkeure, etniese agtergrond, leefstyl of selfs hul haarstyle, dan is ek jammer, maar het ek geen tyd vir jou as ’n mens nie. Jy en enigiemand anders soos jy.
“Dit is al wat ek wil sê. Dit was ’n wonderlike tyd gisteraand, fantasties om weer voor skares te speel, krieket is soveel beter so. Ons het verloor, maar hopelik sal ons in die oorblywende wedstryde opstaan. Dankie vir die ondersteuning.”
Steyn het syfers van 2/44 in die Gladiators se nederlaag met drie paaltjies behaal.
Hy spits hom deesdae uitsluitlik toe op T20-krieket en geniet ook ander stokperdjies buiten krieket – soos skaatsplank- en branderplankry.