Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dale kan weer só met Pakistan maak

Pakistan se drie mees ervare spelers sal na die Wanderers opruk met nagmerrie-herinneringe aan wat die Suid-Afrikaanse snelbouler Dale Steyn aan dié span gedoen het met hul laaste besoek hier.

Pakistan se kaptein, Sarfraz Ahmed, en die kolwers Azhar Ali en Asad Shafiq het almal in 2013 op die Wanderers gespeel toe Steyn se verwoestende boulskof van 6/8 die lewe uit Pakistan geruk het.

Die besoekers is toe vir slegs 49 in hul eerste beurt uitgeboul. Suid-Afrika het daardie toets met 211 lopies gewen.

Aiden Markram sal die kolfbeurt vir die Proteas begin in die derde toets teen Pakistan, nadat hy Donderdag ’n fiksheidstoets geslaag het. Foto: Gallo Images

Die besoekers sal van Vrydag af probeer om daardie spook te verjaag wanneer die derde en laaste toets in Johannesburg begin. Pakistan kon nog nooit ’n toets in die Goudstad wen nie en indien hulle daardie vertoningslys wil verbeter, sal die bogenoemde drie kolwers meer as hul kant moet bring.

Steyn, aan die ander kant, sal hoop om sy skittervertoning van ses jaar gelede te herhaal. Doen hy dít, sal die Proteas stewig op koers wees na ’n skoonskip-reekssege en sodoende die tweede plek op die wêreldranglys vir toetsspanne.

As ’n mens die instaankaptein, Dean Elgar, kan glo, lyk dit asof die Wanderers-blad goeie krieket sal oplewer.

Hopelik kan ons lekker wip en vaart uit die blad kry.
Dean Elgar

Die Wanderers-blad was verlede jaar teen Indië in die kollig, nadat verskeie kolwers raakgeboul is omdat die bal skerp van goeie lengtes af opgeskiet het. Elgar is selfs teen die kop raakgeboul, wat die skeidsregters bykans laat besluit het om die toets af te gelas.

“Die blad lyk baie goed. Ons het onlangs ’n paar . . . bedenklike blaaie gehad. Hopelik kan ons lekker wip en vaart uit die blad kry,” sê Elgar, wat ook in die 2013-toets gespeel het.

Hy sal die beurt saam met sy gebruiklike aanvangsmaat, Aiden Markram, begin nadat Markram Vrydag ’n fiksheidstoets geslaag het.

Elgar het ook genoem dat Zubayr Hamza, wat Protea nr. 100 sal word, sy buiging “in Faf du Plessis se posisie (nr. 5)” kan maak.

Die kans bestaan ook dat Temba Bavuma liewer op nr. 5 sal instap, met Hamza op nr. 6.

Hamza se tegniek, terloops, herinner ongelooflik baie aan dié van die Engelse kaptein, Joe Root. Hy tel sy kolf ook hoog op, hop so een of twee keer terwyl die bouler instorm, en lyk net so vloeiend en ontspanne wanneer hy die bal onder sy oë speel.

Onder die boulers behoort Steyn weer deur drie ander snellers – Kagiso Rabada, Vernon Philander en Duanne Olivier – bygestaan te word.

Dale Steyn gee vir Hashim Amla vyf ná sy verwoestende boulskof van 6/8 in 2013 teen Pakistan. Regs van hom staan Faf du Plessis, Dean Elgar en Graeme Smith. Elgar sal hoop Steyn maak sy lewe as instaan-kaptein vir Du Plessis makliker in die derde toets teen Pakistan. Foto: Gallo Images

“Ons het ’n lekker kopseer daar, want ons het die vier snellers en ook ’n draaier van wêreldgehalte in Keshav (Maharaj), wat absoluut niks verkeerd gedoen het nie,” sê Elgar.

“Tog moet jy jouself afvra of jy die voordeel wat jou vier snelboulers jou tot dusver in die reeks gegee het, wil prysgee.

“Ek sou dit haat om nog ’n snelbouler te trotseer wat jou kop teen 140 km/h wil afboul, soos wat hulle sover in die reeks gedoen het.”

Hulle herinner my so ’n bietjie aan ’n Suid-Afrikaanse boulaanval, ek dink dit is die Mickey Arthur-invloed. Hulle boul met baie vuur.
Dean Elgar

Elgar het ook gesê die Proteas het planne om te sorg dat hul boulbeurttempo nie weer te stadig is nie.

“As ons met vier snellers speel, sal ek of Aiden ’n paar beurte in elke sessie moet boul (om die tempo te versnel).”

Elgar staan vir Du Plessis in omdat Suid-Afrika se boulbeurttempo te stadig op Nuweland was en die kaptein dus ’n skorsing van een wedstryd toegedien is.

Die kaptein waarsku wel dat Pakistan se boulaanval nie onderskat moet word nie.

“Hulle herinner my so ’n bietjie aan ’n Suid-Afrikaanse boulaanval, ek dink dit is die Mickey Arthur-invloed. Hulle boul met baie vuur.”

Een Protea-kolwer wat sal hoop die Pakistani’s boul nie met té veel aggressie nie, is Quinton de Kock.

De Kock is Vrydag by die netsessie twee keer, in ’n bestek van ’n paar balle, op sy “boks” raakgeboul. Albei kere het hy in pyn op die grond rondgerol – tot die groot vermaak van sy spanmaats.

Spanne:

Proteas (waarskynlik): Dean Elgar (k), Aiden Markram, Hashim Amla, Theunis de Bruyn, Zubayr Hamza, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Vernon Philander, Kagiso Rabada, Dale Steyn, Duanne Olivier.

Pakistan (uit): Sarfraz Ahmed (k), Imam-ul-Haq, Shan Masood, Azhar Ali, Asad Shafiq, Babar Azam, Faheem Ashraf, Yasir Shah, Shadab Khan, Mohammad Amir, Mohammad Abbas, Shaheen Afridi, Hasan Ali, Fakhar Zaman.

  • TV: Van 09:00 op SS 2, van 09:30 op SABC 3 (begintyd: 10:00).

Meer oor:  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Wanderers  |  Dean Elgar  |  Kriekettoets  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.