
Dale Steyn Foto: Getty Images
Die Protea-snelbouler Dale Steyn het ’n welkome hupstoot vir die Lanka Premierliga (LPL) verskaf, toe hy bevestig het hy sal daarin speel vir die Kandy Tuskers.
Die speler en die franchise het die nuus op sosiale media bevestig. Steyn het op Twitter gesê: “Sien julle binnekort, Sri Lanka. Ek sal later vandeesweek by my span @KandyTuskers aansluit. Sal pret wees om ou vriende te sien en mee te ding in goeie krieket!”
Die 37-jarige Steyn, Suid-Afrika se grootste toetspaaltjie-vraat met 439 slagoffers, sal speel in die plek van Pakistan se Sohail Tanvir, wat kort ná sy aankoms in Sri Lanka positief vir Covid-19 getoets het.
Die Tuskers se eerste wedstryd is reeds Donderdag, en Steyn sal dit waarskynlik mis omdat hy eers ’n paar dae in kwarantyn moet deurbring.
Die span se assistent-afrigter, Farveez Maharoof, het volgens ESPNCricinfo gesê hulle sal duidelikheid daaroor hê wanneer Steyn in Sri Lanka is.
“Ons sal met die gesondheidsowerhede praat voor ons ’n finale besluit daaroor maak,” het hy gesê.
Die nuus van Steyn se koms is goeie nuus vir ’n liga wat reeds drie keer uitgestel is weens die Covid-19-pandemie.
Boonop het internasionale sterre soos Chris Gayle, Faf du Plessis en Lasith Malinga almal in onlangse dae onttrek aan die toernooi.
Die LPL is nou geskeduleer om van 26 November tot 16 Desember naby Hambantota plaas te vind. – TeamTalk