Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dané sê Protea-vroue sal nie meegevoer raak
Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan maak kringetjie ná afloop van Sondag se sege oor Engeland. Foto: Getty Images

Van grootkop kry en kop in die wolke wees nadat die Protea-vrouekrieketspan sy aanslag by die T20-Wêreldbeker-toernooi in Australië op ’n hoogtepunt begin het, is daar nie sprake nie.

So sê Dané van Niekerk, Suid-Afrika se kaptein, nadat haar span Engeland Sondag met ses paaltjies in Perth geklop het.

“Ons het ná die wedstryd ’n kringetjie gemaak en aan mekaar gesê dat ons die sege verdien het. Maar ook dat ons dit op die veld los,” sê sy.

Ons het ná die wedstryd ’n kringetjie gemaak en aan mekaar gesê dat ons die sege verdien het. Die span weet dit is slegs een trappie van nog baie wat geklim moet word.
Dané van Niekerk

“Die span weet dit is slegs een trappie van nog baie wat geklim moet word.”

Ná die sege oor die Engelse, die naasbeste T20-span op die Internasionale Krieketraad se ranglys, is daar skielik hoop dat Suid-Afrika die halfeindronde kan haal. Die enigste keer toe die Proteas dít nog kon vermag, was in 2014.

Daar lê egter nog groepwedstryde teen Thailand, Pakistan en die Wes-Indiese Eilande voor. Veral Pakistan en die Windies is moeilike teenstanders.

Thailand word Vrydag in Canberra gepak, waarna Pakistan Sondag in Sydney aan die beurt kom. Met slegs die voorste twee spanne in elke afdeling wat deurdring, kan ’n span omtrent nie bekostig om te verloor nie.

“Ek dink elke teenstander gaan moeilik wees. Daar is baie druk en ek kan nie een (teenstander) uitsonder nie.

“Die Windies het al die Wêreldbeker gewen (in 2016), terwyl Thailand baie potensiaal het. Ons verkies maar om elke dag en wedstryd op verdienste te benader,” sê Van Niekerk.

Dané van Niekerk, kaptein van die Protea-vrouekrieketspan, lê Sondag die langsteel in. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het teen Engeland ’n stadige begin tot sy kolfbeurt gehad en het slegs 21/1 op die telbord gehad ná vyf boulbeurte.

Van Niekerk erken dat die kolftoestande effens moeilik was.

“Lizelle (Lee, aanvangskolwer) is van nature aggressief aan die begin van die kolfbeurt. Die bal het weens die blad nie so lekker deurgeskiet nie. Reguit houe het nie so goed gewerk as gewoonlik nie. Dit het beteken dat ons ’n klein bietjie van ’n stadiger begin aan ons kolfbeurt gehad het,” sê Van Niekerk.

“Die ideaal is om aan te pas by toestande en ek dink ons het dit goed opgesom, om later in die kolfbeurt meer aggressief te kolf.”

Sy lag wanneer sy gevra word oor haar spanmaat Suné Luus, wat so byna haar paaltjie deur middel van die Mankad-reël verloor het.

Katherine Brunt, wat die laaste boulbeurt vir die Engelse afgestuur het, het vir Luus aan die boulerskant buite haar kolfkampie betrap en haar gewaarsku om nie te haastig weg te spring nie.

“Dit is maar deel van die wedstryd en iets wat in die hitte van die oomblik gebeur het. Die laaste ding wat Suné wou doen, was om ’n lopie te steel,” sê Van Niekerk.

“Suné is wel al vroeër ge-Mankad – as ek reg onthou was dit teen Sri Lanka.”

* Kyk: Suné Luus word amper “ge-Mankad”: 

Meer oor:  Dané Van Niekerk  |  Sune Luus  |  Australië  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  T20-Wêreldbekertoernooi  |  Kaptein  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.