Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Davy vind fontein van jeug in Kanada

Die laaste hoofstuk in die krieketloopbaan van Davy Jacobs is skynbaar nog nie geskryf nie.

Die oud Baaienaar Davy Jacobs geniet dit deesdae om vir Kanada krieket te speel. Foto: Peter Della Penna

Jacobs (36), ’n voormalige kaptein van die Warriors, geniet deesdae die spel só baie in Kanada dat hy nog geen planne het om sy kolf weg te pak nie.

En dit ná hy in Februarie van 2015 aanvanklik sy uittrede uit die spel aangekondig het.

Toe was Jacobs lankal nie meer lus vir krieket nie.

“Dit het my drie jaar geneem om die moed bymekaar te skraap om uit te tree,” het Jacobs toe gesê.

“Ná die IPL (2012 se Indiese Premierliga, waar hy vir die Mumbai Indians gespeel het) was ek gedaan.

“My liggaam het niks oorgehad nie, want ek het te veel geoefen. Ek het soos ’n driekamp-atleet geoefen. Ek het geglo ek moet die sterkste en die vinnigste wees.”

Hy was boonop as pa van twee jong meisietjies bekommerd oor die toekoms. Hy en sy vrou, Lizelle, begin toe rondkyk vir geleenthede oorsee.

Jacobs wou Belfast toe in Noord-Ierland, waar hy al tevore krieket gespeel het. Maar Lizelle het gevra: “Wat van Kanada? Ons was nog nie daar nie.”

’n Paar maande later was Jacobs in Kanada en het hy by die Ontario-krieketakademie begin afrig. En toe word hy Kanada se nasionale span se afrigter.

“Ek het die Warriors se kaptein geword toe ek 24 was, maar ek wou al die vorige winter uittree, want ek wou gaan afrig. Die kapteinskap het my baie langer in die game gehou,” het Jacobs in 2016 in ’n onderhoud met Marizanne Kok in Rapport gesê.

Davy Jacobs het in sy tyd by die Warriors ook soms paaltjiewagter gespeel. Foto: Gallo Images

Daar in Kanada het hy egter weer begin krieket speel. Eers net klubkrieket en toe word sy arm gedraai en daar word hy toe in 2017 Kanada se kaptein.

En hy is nou steeds Kanada se kaptein. Maar wat dan van al daardie praatjies oor beserings en dat jy moeg is vir krieket in 2015, Davy?

“My lyf voel baie goed. Ek is fikser as ooit tevore. Dis vreemd, want ek het deur die jare soveel beserings en operasies gehad,” sê Jacobs hierdie week in ’n e-pos uit Kanada.

“My liggaam het gesukkel. Maar ná ’n jaar of twee uit die spel het ek besef my liggaam het heeltemal herstel. So, ek geniet nou my krieket weer verskriklik.”

En die afrigting?

“Ek sal later beslis meer by afrigting betrokke raak, maar solank as wat ek dit nou weer geniet, wil ek self speel,” sê Jacobs. “Daar is baie wat ek saam met Kanada kan probeer bereik en ek wil my beste lewer dat ons dit kan regkry.”

Jacobs het Kanada in April in die Internasionale Krieketraad se Afdeling 2-ligatoernooi in Namibië aangevoer. Die Kanadese span het met groot verwagtinge opgedaag, maar het eindelik teleurstellend vertoon.

“Ons het stadig begin en ’n tydjie geneem om op dreef te kom. Ons het darem sterk geëindig en ons laaste drie wedstryde gewen, maar is ongelukkig steeds gerelegeer,” sê Jacobs.

Die relegasie beteken dat Kanada nou in Augustus sy beste voet in die Internasionale Krieketraad se Wêreldbeker-uitdaagtoernooi moet voorsit as hy enigsins ’n kans wil staan om in 2023 vir die WB-toernooi te kwalifiseer.

Intussen geniet die Jacobse steeds hul lewe in Kanada. Hulle woon in ’n stad met die naam Mississauga en “koop nie meer kerse” omdat hulle bang is vir beurtkrag nie.

“Hier is elektrisiteit wat werk,” sê Jacobs.

Ons het ’n goeie lewe hier en is dankbaar daarvoor. Die mense is goedhartig en gee vir mekaar om.

“Ons het ’n goeie lewe hier en is dankbaar daarvoor. Die mense is goedhartig en gee vir mekaar om. Natuurlik mis ons ons ouers en familie, maar ons het die skuif vir ons kinders (die 9-jarige Lilly en die 6-jarige Lexi) gemaak en ek kon my nie ’n beter omgewing voorstel vir hulle om in groot te word nie.”

Buite om krieket te speel en af te rig, wil Jacobs steeds een van sy drome – om ’n onderwyser te word – bewaarheid.

Hy het reeds vier jaar se deeltydse studies agter die blad en sal dalk in Januarie met sy praktiese jaar begin.

“Lizelle is ’n onderwyseres, maar sy wou iets anders doen toe ons hierheen getrek het,” sê Jacobs.

“Ons het besluit om nuwe dinge te probeer en nuwe ervarings te beleef. Ons het mekaar belowe om net die dinge te doen wat ons geniet en sal dadelik iets los as dit ons verveel.”

Sy vrou is deesdae “in bemarking” en Jacobs “besit ’n konstruksie-maatskappy” en het ook “’n paar ander ysters in die vuur”.

En vir ’n tydjie nog kan ondersteuners van Kanada se krieketspan ook nog van pure lekkerkry rondspring wanneer die oud-Oos-Kapenaar die bal met sy kolf oor die grens klap.

Meer oor:  Davy Jacobs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.