Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
De Kock krap kop oor Proteas se kleitrappery
Aaron Finch jaag nog ’n bal grens toe in Australië se T20-oorwinning oor die Proteas op Nuweland. Sy eweknie, Quinton de Kock (regs), kon nie verklaar waarom Suid-Afrika so sleg gevaar het in die beslissende stryd teen die besoekers nie.Foto: Gallo Images

“Dit is bloot nie goed genoeg nie.”

Quinton de Kock, Suid-Afrika se T20-kaptein, het Woensdagaand gesukkel om te verduidelik waarom Australië vir die tweede wedstryd in die reeks van drie die Proteas afgeransel het.

Australië het dié T20-reeks met 2-1 beklink nadat hy die derde wedstryd met 97 lopies gewen het.

“Om eerlik te wees, ek weet nie. Dit is moeilik om te verklaar wat gebeur het. Kolftoestande was eintlik effens beter as toe hulle gekolf het,” het De Kock gesê oor sy span se kapitulasie op Nuweland.

Dit is net teleurstellend om vir die tweede keer só ’n pak slae te kry. Ons het goeie krieket teen Engeland gespeel, maar verloor. Hier het ons een goeie vertoning uit drie gelewer. Harde werk lê voor.
Quinton de Kock

“Dit is net teleurstellend om vir die tweede keer só ’n pak slae te kry. Ons het goeie krieket teen Engeland gespeel, maar verloor. Hier het ons een goeie vertoning uit drie gelewer. Harde werk lê voor,” meen die kaptein.

De Kock het gesê die Proteas gaan straks die komende eendagreeks teen Australië gebruik om ’n paar jong spelers geleenthede te gee. Die eerste van drie eendagwedstryde word Saterdag in die Paarl gespeel.

Die ander wedstryde word volgende week in Bloemfontein en Potchefstroom beslis.

In die laaste 11 wedstryde wat Aaron Finch (Australië se eendag-kaptein) teen Suid-Afrika gespeel het, was hy agt keer aan die verloorkant. Foto: Getty Images

De Kock se Australiese eweknie, Aaron Finch, het die oorwinning as uiters belangrik vir sy span beskryf.

“Dit was belangrik om terug te slaan ná die laaste nederlaag (in Port Elizabeth). Dít (die stryd in die Baai) was ’n wedstryd wat ons eintlik ook moes gewen het,” sê Finch.

Hy was vol lof vir die manier wat sy span by die toestande in Kaapstad aangepas het.

“Dit was moeilik vir kolwers om net in te kom en die bal oor die grens te jaag, veral teen goeie draaibalboulers. Suid-Afrika het baie goed geboul teen die einde in Port Elizabeth en deur die middelbeurte hier.

“Ek dink die ouens het beslis baie geleer uit die reeks,” sê Finch.

Ofskoon die spanne se aandag nou skuif na die eendagreeks, sal spelers se vertonings in die kitsreeks steeds fyn dopgehou word met die oog op die T20-Wêreldbeker-toernooi, wat in Oktober in Australië begin.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Aaron Finch  |  Suid-Afrika  |  Australie  |  Krieket  |  T20-Reeks  |  Proteas  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.