Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
De Kock nié toetskaptein, sê Smith

Quinton de Kock sal nie met die Proteas se toetskapteinskap ook opgesaal word nie in ’n poging van Krieket Suid-Afrika (KSA) om sy werklading te bestuur.

Quinton de Kock teen Engeland in aksie. Foto: Gallo Images

Die 27-jarige De Kock is in Januarie as die Proteas se nuwe eendag- en T20-kaptein aangewys. Hy het die leisels by Faf du Plessis geneem, wat steeds in al drie formate as speler beskikbaar is, maar die tuig as kaptein neergelê het.

Die groot vraag was of De Kock die kapteinskap in toetskrieket ook sou oorneem, maar Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het Vrydag op ’n elektroniese nuuskonferensie gesê dít sal nie gebeur nie.

“Die een besliste antwoord wat ons oor die toetskapteinskap het, is dat dit nie Quinton gaan wees nie. Ek kan wel nog nie sê wie dit gaan wees nie. Dit word nog bespreek,” sê Smith.

Die een besliste antwoord wat ons oor die toetskapteinskap het, is dat dit nie Quinton gaan wees nie.
Graeme Smith

De Kock is vasbeslote om solank as wat hy kan as kaptein, aanvangskolwer én paaltjiewagter in witbalkrieket diens te doen.

Dit is ’n swaar werklas en Smith wil hom nie met nóg bykomende verantwoordelikheid opsaal nie.

“Ons wil Quinton vars hou en sorg dat hy goed speel. Om in al drie formate kaptein te wees, is uitdagend,” sê Smith.

“Die meeste lande probeer dit uitpluis – baie het een kaptein vir twee formate en ’n ander kaptein vir die ander formaat. Drie verskillende kapteins werk nie.

“Ons het gevoel dat Quinton nie sal baat daarby om met die las opgesaal te word om die kaptein in al drie formate te wees nie, ook nie vanuit ’n sielkundige oogpunt nie.

“Ons verstaan die tipe speler en persoonlikheid wat hy is en wil hê hy moet homself kan uitleef.”

Ons moet die verskillende persoonlikhede verstaan, en kyk wie gesag het, wie respek afdwing.
Graeme Smith

Nou is die vraag, wie gaan die span in toetse lei?

“Daar is nie een enkele ou wat jy kan uitwys en sê dit is daardie ou nie. Daar is nog baie spelers wat veg om gekies te word, baie spelers is op dieselfde vlak.

“Die uitdaging vir wanneer ons weer speel, is om te kyk wie uitstyg,” sê Smith.

Die sterkste kandidate is Dean Elgar, wat die span al twee keer aangevoer het, Temba Bavuma, wat al die onderkaptein was, en dalk ook Aiden Markram, indien hy sy plek in die span kan terugkry ná ’n besering en weer sy spelpeil kan herwin.

Rassie van der Dussen is nog onervare op toetsvlak, maar selfs hy kan ’n buiteperd vir die posisie wees.

“Ons moet die verskillende persoonlikhede verstaan, en kyk wie gesag het, wie respek afdwing. Dalk gaan ons ’n kans met iemand moet waag,” sê Smith.

“Ek was self iemand met wie daar gewaag is, so dit is iets wat ons sal oorweeg.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Quinton De Kock  |  Suid-Afrika  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.