Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
De Kock: ‘Slim Sri Lanka het druk bly oplaai’
Quinton de Kock voel hoe dit voel om kaptein te wees.Foto: Gallo Images

Hoewel dit op die oog af gelyk het asof die Proteas Woensdagaand hul wenkans in die vierde eendag-krieketstryd teen Sri Lanka met onbesonne kolfwerk weggesmyt het, het Quinton de Kock lof gehad vir die tuisspan se boulers in dié naelbyt-kragmeting.

Talle reënonderbrekings het meegebring dat Suid-Afrika uiteindelik 191 in 21 beurte in Kandy moes aanteken om te wen. Sri Lanka het egter ’n einde aan die Proteas se segetog van 11 kitswedstryde teen hom gemaak deur die toerspan tot 187/9 te beperk.

Die twee paaltjies in die 13de boulbeurt – Heinrich Klaasen (17) en JP Duminy (38) wat uitgehardloop is – was veral ’n gevoelige slag.

Suid-Afrika het egter ná die 15de beurt, met nog 43 lopies nodig van 36 balle en vyf paaltjies staande, steeds na die wenner gelyk. Die paaltjies het egter bly kantel.

Die houespel aan die einde van veral Andile Phehlukwayo, Keshav Maharaj én selfs David Miller, het veel te wense oorgelaat.

Suid-Afrika het, met Miller voor die paaltjies en twee paaltjies staande, nog agt lopies van die laaste boulbeurt van Suranga Lakmal (3/46) benodig. Lakmal het toe vir Miller met die tweede aflewering daarvan skoongeboul.

“Dis altyd teleurstellend om so te verloor, maar die Sri Lankane, wat bly paaltjies neem het en druk op ons geplaas het, verdien lof,” het De Kock, Suid-Afrika se waarnemende kaptein, gesê.

Ons het onsself in die laaste boulbeurt nog ’n kans gegee, Davey is iemand wat die bal oor die grens kan moker, maar Lakmal het twee goeie aflewerings afgestuur en die druk behou.
Quinton de Kock

“Ons het onsself in die laaste boulbeurt nog ’n kans gegee, Davey is iemand wat die bal oor die grens kan moker, maar Lakmal het twee goeie aflewerings afgestuur en die druk behou,” het De Kock volgens island-cricket.com gesê.

Die algemene mening, ook by die Proteas nadat Sri Lanka 306/7 in net 39 boulbeurte opgestapel het, was dat dit ’n baie goeie kolwersblad was.

“Ons het geweet dis ’n goeie kolwersblad, wat net beter en beter geraak het. Hulle het ongelukkig regtig goed geboul, jy kan dit nie wegneem van hulle nie. Hulle het die druk daarmee op ons gehou,” sê De Kock.

Suid-Afrika het met die reeks reeds gewonne drie veranderinge gemaak.

Keshav Maharaj. Foto: Gallo Images

Klaasen het die beseerde kaptein, Faf du Plessis, vervang, Maharaj het in sy mede-draaier Tabraiz Shamsi se plek gespeel, terwyl Junior Dala, wat al sy T20-buiging gemaak het, sy eerste eendagwedstryd vir SA gespeel het.

Dala, Lungi Ngidi en Wiaan Mulder het almal meer as agt lopies per beurt afgestaan.

Sri Lanka het hom op 195/6 losgewikkel uit ’n greep danksy die Speler van die Wedstryd, Dasun Shanaka, wat op nommer agt aansien kom gee het aan Sri Lanka se totaal. Hy het in 2016 laas in ’n eendagwedstryd gespeel.

De Kock sê die voorsmaak van die druk van ’n wedstryd op die internasionale verhoog kan net goed wees vir al die nuwelinge en jong spelers in die span. Jy kan net leer en groei uit ’n wedstryd soos dié en dit was daarom volgens hom goed om van hulle in die wedstryd betrokke te hê.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Sri Lanka  |  Kandy  |  Proteas  |  Kaptein  |  Paaltjiewagter  |  Krieket  |  Eendagreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.