Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
De Kock wys vingers vir Afgan-vriend

Die nuwe wyse waarop Quinton de Kock sy kolfmylpale vier, is ’n eerbetoon aan een van sy vriende wat van sy vingers in ’n skietvoorval in Afganistan verloor het.

De Kock het Vrydag ’n skitterbeurt van 141* (170 balle) aangeteken om die Proteas in beheer te plaas van die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia.

Danksy De Kock se beurt het Suid-Afrika ’n eerstebeurttelling van 322 opgestapel in antwoord op die Windies se 97. Teen uitskeityd op die tweede dag het die tuisspan op 82/4 gestaan, nog 143 lopies agter die Proteas.

Quinton de Kock op pad na sy honderdtal. Foto: West Indies Cricket

Toe De Kock Vrydag sy honderdtal met ’n ses bereik, het hy sy kolf vertikaal in die lug gehou om Rockwood-bewaring se kenteken ten toon te stel. Hy is saam met Rockwood by renosterbewaring betrokke.

Met sy ander hand het hy sy pinkie, middel- en ringvinger opgehou om ’n W-vorm te wys.

“Ons is ’n hele groep vriende by Rockwood, die bewaringsagentskap. Een van ons vriende se vingers is afgeskiet en dit is nogal ’n groot ding in ons vriendekring,” sê De Kock.

“Ek het vir hom gesê as ek ’n mylpaal behaal, sal ek dit spesiaal vir hom wys. Ek kan nie glo dit het in die eerste wedstryd gebeur nie. Ek is seker ons WhatsApp-groep gaan besig wees as ek weer by my foon kom.”

De Kock was bly dat hy weer ’n goeie vertoning kon lewer nadat hy vroeër vanjaar gesukkel het toe hy met die kapteinskap toevertrou is.

Ná die wegreeks in Pakistan, het hy Krieket Suid-Afrika (KSA) vir ’n blaaskans gevra.

“Dit het niks met die kapteinskap te doen gehad nie, dit het alles met die Covid-borrels te doen gehad. Dit het ’n tol geëis om in soveel borrels te wees. Dit was net te veel.

Soos Lungi (Ngidi) gesê het, niemand word gedwing om enigiets te doen in die lewe nie.
Quinton de Kock

“Ek het gevra of ek ’n blaaskans kan kry vir die T20-reeks in Suid-Afrika. Hulle het dit ’n sielkundige blaaskans genoem, maar ek was nie sielkundig moeg nie, of altans nie van krieket nie, net van die borrels.

“Ek was in die IPL in ’n borrel, in Pakistan in ’n borrel . . . dit was veral taai. Ons het van die kleedkamer gegaan na een vloer van kamers, sonder enige balkonne of enigiets. Sedert die breuk voel ek weer goed.”

Selfs voor sy skittervertoning van Vrydag was De Kock al in die nuus oor iets wat in dié toets gebeur het.

De Kock was Donderdag voor die aanvang van die wedstryd die enigste Protea-speler wat nie óf gekniel het óf ’n vuis in die lug gehou het om solidariteit met die stryd teen rassisme te betoon nie. Hy het net op aandag gestaan.

“Ek het my eie rede waarom. Ek sal dit vir myself hou. Dit is my eie mening,” verduidelik hy.

“Soos Lungi (Ngidi) gesê het, niemand word gedwing om enigiets te doen in die lewe nie. Dit is hoe ek dit sien.”

De Kock sê hulle hoop om die wedstryd Saterdag te verseël, maar hulle weet die Windies het steeds goeie spelers wat moeilikheid kan veroorsaak.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Wes-Indiese Eilande  |  Toetskrieket  |  Windies  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.