Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dean, Keshav bly om oog op bal te hê

Om daardie wonderlike geluid van die krieketbal teen die kolf te hoor klap en die bal soos ’n missiel deur die dekke te sien vlieg na die grenstou, is iets waarna Suid-Afrikaanse spelers en -ondersteuners nou al lank smag.

Dean Elgar verlede maand in die nette tydens ’n Titans-oefensessie. Die aanvangskolwer kan nie wag om weer op die krieketveld te kom nie. Foto: Gallo Images

Dit word weer op 2 November ’n werklikheid wanneer die plaaslike meerdaagse reeks begin. En van die voorste spelers in die land sê hulle jeuk omtrent van opwinding om weer deel van die aksie te wees.

“Dit was aangenaam om tyd by die huis deur te bring saam met die gesin, maar daar was nogal frustrerende tye ook. Dit het nou tyd geword om weer op die speelveld te wees,” sê Dean Elgar, die veteraan-aanvangskolwer van die Titans, wat ook ’n staatmaker vir die nasionale toetsspan is.

“Almal gaan brand om hulself te laat geld wanneer die plaaslike seisoen weer begin,” het Elgar in ’n mediaverklaring van Krieket Suid-Afrika (KSA) gesê.

Die meeste van die nasionale spelers gaan in die plaaslike meerdaagse seisoen kan speel.

Vir Elgar sal dit nogal iets nuuts wees, aangesien hy verlede seisoen weens sy besige internasionale skedule nie in een enkele meerdaagse kragmeting vir die Titans kon speel nie.

“Met die uitsondering van die ouens wat in die Indiese Premierliga (IPL) speel, gaan al die nasionale spelers vir hul onderskeie franchises speel. Die intensiteit sal baie hoog wees en krag teen krag sal beslis gehandhaaf word,” reken Elgar.

“Dit bied die geleentheid vir baie van die franchise-spelers om hulself te meet teen die nasionale spelers en ek voorspel dat die standaard hoog gaan wees.”

Afhangende hoe die situasie ontwikkel, sal Elgar vir ten minste die eerste vyf of ses Titans-wedstryde beskikbaar wees.

“Ek kan eerlikwaar nie onthou wanneer laas ek so baie plaaslike meerdaagse wedstryde kon speel nie. Ek kan nie wag om uit te stap met die kolf en my deel vir die Titans te doen nie,” sê hy.

Keshav Maharaj sê die sewe maande sonder krieket was geestelik gesproke ’n groot uitdaging vir hom. Foto: Gallo Images

Keshav Maharaj van die Dolphins, wat net soos Elgar op die kortlys van moontlike kandidate is om die nuwe Suid-Afrikaanse toetskaptein te word, erken die onsekerheid van die afgelope klompie maande het geestelik aan hom geknaag.

“Dit is goed om nou te weet waar jy staan en dat jy kan beplan. Om vir sewe maande onaktief te moes wees, was allesbehalwe goed vir my.

“Hier binne in my het die honger om weer krieket te speel net al hoe erger geraak. Dit was asof daar die heeltyd ’n nare stem hier op jou skouer was wat jou allerhande dinge wysgemaak het wat jy nie wou hoor nie.

“Dit gaan baie lekker wees om weer ’n slag vir die Dolphins te speel en ek glo die diepte in ons plaaslike krieket gaan behoorlik getoets word. Dit sal baie mededingend wees,” verseker hy.

Die Dolphins skop hul meerdaagse seisoen af met ’n tuiswedstryd op Kingsmead in Durban teen die Lions, terwyl die Titans Kaap toe reis vir hul stryd daar op Nuweland teen die Cape Cobras.

Meer oor:  Titans  |  Meerdagreeks  |  Keshav Maharaj  |  Krieket  |  Meerdagkrieket  |  Plaaslike Krieket  |  Dean Elgar  |  Dolphins
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.