Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Denly en Stokes plaas Engeland in saal

Daar wag ’n massiewe taak op Australië se krieketspan as hy huiswaarts wil mik met sowel die As as daardie ontwykende reekssege in Engeland.

Dit volg nadat Jofra Archer vir die tweede keer in sy loopbaan ses paaltjies in ’n beurt geneem het en die kolwers Joe Denly (94 van 206 balle; 14x4, 1x6) en Ben Stokes (67 van 115 balle; 5x4, 2x6) die Australiese veldwerkers Saterdag besig gehou het.

Sam Curran van Engeland moker die bal op die derde dag van die laaste toets om die As.Foto: Getty Images

Engeland het die dag afgesluit met ’n stewige voorsprong van 382 nadat Denly en Stokes die span tot 313/8 gehelp het.

Denly, wat Donderdagaand pa geword het, sou sonder twyfel ’n spesiale week met ’n eerste toetshonderdtal wou afsluit, maar het net kort geval. Hy sal wel sy 94 lopies as ’n troosprys beskou aangesien dit ’n sterk vertoning gaan verg indien ’n Australiese kolwer dit wil verbysteek.

Dit het byna ’n volle drie dae geneem, maar Australië se veldwerkers het Saterdag in die laaste uur op die derde dag van die laaste toets om die As oombliklik wakker geskrik en die span rede gegee om te glimlag, al was dit dan min.

Ná ’n dag wat gekenmerk is deur slordige boulwerk en talle verbroude vangskote deur die Aussies, het Steve Smith met ’n manjifieke vangskoot vir Chris Woakes (6) terug kleedkamer toe gestuur, met Jos Butler (47) wat ’n enkele bal later gevolg het.

Archer (3*) en Jack Leach (5*) sal Sondagoggend voortkolf en poog om die tuisspan se voorsprong tot sowat 400 lopies te vergroot, voor hulle weer in Smith met ’n kolf in die hand moet vaskyk.

Om hul hoofdoel van ’n eerste reekssege in Engeland in 18 jaar te behaal, sal die besoekers ernstig moet skouer aan die wiel sit.

Soos dinge tans staan, sal Engeland hul kanse goed ag om sake gelykop in dié reeks te laat eindig op 2-2.

Trouens, vir Australië om te wen sal hulle ’n soortgelyke vertoning benodig as toe Ben Stokes by Headingly die teiken van 359 afgejaag het vir Engeland.

Maar dis juis waar Smith die verskil tussen wen en verloor kan wees.

Hy het reeds 751 lopies in sy ses beurte tydens die reeks opgestapel en boonop vier vangskote Saterdag geneem.

Kan hy met nog ’n deurslaggewende vertoning vorendag kom of gaan dié hekkie een te hoog wees?

Meer oor:  Ben Stokes  |  Steve Smith  |  Jofra Archer  |  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.