Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher, Smith kan hom dalk terug in SA span kry
Deur is oop vir AB by Proteas, sê Boucher

‘Pasop vir ’n gekweste buffel. Veral in Afrika!”

Mark Boucher lag gister op die nuuskonferensie waar aangekondig is hy is die nuwe Protea-afrigter. Hy is een van die hoofrolspelers in die reddingspan wat die span moet regruk, saam met (inlas van bo) Graeme Smith, Enoch Nkwe en Linda Zondi.Foto’s: BERTRAM MALGAS, GALLO

Met dié woorde het die Proteas se nuwe hoofafrigter, Mark Boucher, gister die eerste salvo van die komende krieket-oorlog tussen Suid-Afrika en Engeland gevuur, kort ná bevestig is dat hy vir die volgende vier jaar die nasionale span sal brei.

Boucher (43) het moontlik veral die opmerkings van die voormalige Engeland-kaptein Nasser Hussain, dat die Britse span die chaos in Suid-Afrikaanse krieket op hul komende toer moet uitbuit, in gedagte gehad toe hy dié waarskuwing gerig het.

Boucher, ’n voormalige Protea-paaltjiewagter, was tydens sy speeldae bekend as ’n speler wat vir niemand ’n tree terug sou staan nie. Duidelik is dit ook sy styl as afrigter.

Die Proteas se nuwe breier het ook nie benoud gelyk oor die min tyd wat hy het om ’n span vir die toetsreeks voor te berei nie. Die eerste toets begin reeds op Tweede Kersdag en is dus net 11 dae weg.

Hy het die lede van die media herinner dat hy as speler ook moeilike tye beleef het, en toe reeds ervaar het hoe vinnig dinge kan verander.

Dié veteraan van 147 toetse het gesê sy eerste taak as breier is om die Proteas te help om hul selfvertroue te herwin ná ’n moeilike 2019.

Verder die toekoms in het Boucher ’n sprankie hoop gegee vir diegene wat steeds daarvan droom om AB de Villiers weer met die Protea-wapen op die bors te sien speel.

Hy is reguit gevra of hy De Villiers sou nader om sy land weer tydens aanstaande jaar se T20-wêreldtoernooi in Australië te verteenwoordig.

Boucher waarsku Engelse voor SA toer.

Boucher het nie ja gesê nie, maar die idee ook nie afgeskiet nie.

“In my pos as afrigter gaan ek altyd probeer om die sterkste moontlike span te kies en ek sal met almal praat om dié span te versterk,” het hy geantwoord.

“As ’n mens kyk watter positiewe invloed die ervare Springbokke wat oorsee speel op Rassie Erasmus se Bok-span gehad het, is dit duidelik dat daardie soort spelers ’n span baie kan help.

De Villiers was tydens vanjaar se WB-toernooi fel in die kollig toe dit aan die lig gekom het dat hy sou oorweeg om Suid-Afrika by die toernooi te verteenwoordig, sou hy gevra word. Sowel Boucher as Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, is eertydse Protea-spanmaats van De Villiers met wie hy noue bande gehad het. Dis nie vergesog om te dink hulle kan hom oorreed om nog ’n hoofstuk by sy Protea-verhaal te voeg nie.

De Villiers sal ook ’n kuur bied vir die Proteas se gebrek aan ervaring – iets wat Boucher reguit sê vir hom ’n bekommernis is.

“Ons het goeie talent op franchise-vlak, maar ek dink nie dié diepte is tans so sterk soos in die verlede nie,” meen Boucher.

“Ons o.19-span het die laaste ruk ook nie goed vertoon nie en dit is ’n bron van kommer, want dit is juis waar jou spelers van die toekoms moet deurkom. Dit is een van die areas waar Graeme (as direkteur van krieket) se invloed kan help.

“Ek is egter vol vertroue dat ons genoeg natuurlike talent in die land het. As ons die strukture kan regkry, sal die talent vinnig weer deurkom.”

Boucher se regterhand in die Proteas-kamp sal die voormalige Lions-afrigter, Enoch Nkwe, wees. Nkwe was die waarnemende afrigter vir die Proteas se rampspoedige toer na Indië.

Nkwe is gevra of hy sy aanstelling as hulpafrigter (soos Boucher s’n ook vir vier jaar) as ’n tree terug sien. Dit is nie, het hy geantwoord.

“Nee, hoegenaamd nie. Ek voel bevoorreg dat ek die geleentheid gegee word om by die Proteas betrokke te bly. Ons weet almal daar is baie ruimte vir verbetering, maar ek voel sterk daaroor dat ek in hierdie rol ’n groot impak kan maak – nie net op die span nie, maar vir die land as geheel.

“Ons kyk nou vorentoe. Ons is bewus van die uitdagings, maar ek sien uit daarna. Ek wil nie fokus op wat in die verlede gebeur het nie, ek kyk eerder vorentoe.”

Waar Nkwe vir die eerste keer met die Engelse te doen sal kry, het Boucher hulle as speler in 25 toetse gepak. Dis ironies dat sy eerste toets as nasionale afrigter juis teen die ou vyand is, aangesien dit in ’n opwarmwedstryd voor ’n toets teen Engeland was dat Boucher die oogbesering opgedoen het wat uiteindelik sy loopbaan beëindig het.

Boucher sal sy aandag ten volle aan die Proteas kan gee van Dinsdag af. Die span sal van Woensdag af ’n oefenkamp hê.

Voor dan wag nog een baie belangrike taak op Boucher.

Sy Tshwane Spartans pak die Paarl Rocks Maandag in die Paarl in die eindstryd van die Mzansi-superliga.

“Ek is steeds in beheer van die (Spartans-)span. En ons gaan daai titel wen,” het Boucher laggend gesê.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Nuwe Hoofafrigter  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.