Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Die ‘brat’ wat ’n breker geword het

Twee-en-twintig jaar gelede het Shaun Pollock ’n klein blondekop-seuntjie gewaar terwyl hy voorberei het vir ’n eendagwedstryd teen Australië in Bloemfontein.

“Come here, you little brat!” het Pollock grappenderwys uitgeroep.

Die byna driejarige seuntjie het nader gestaan, terwyl Pollock sy arm om hom gesit en die seun se pa ’n foto geneem het.

Labuschagne saam met Shaun Pollock in 1997 voor ’n eendagwedstryd teen Australië in Bloemfontein.

Min het die Protea-snelbouler toe geweet dat dié klein seuntjie eendag self groot opslae as krieketspeler sou maak. Die jong seuntjie was Marnus Labuschagne – die Boere-Aussie wat verlede jaar meer lopies as enigiemand anders in toetskrieket aangeteken het.

“Is dit Labuschagne?” het Pollock Vrydagaand by die Wanderers gevra toe die foto vir hom gewys is. La-boe-skagh-nie, nie Lah-boo-shane soos die Aussies hom roep nie.

Pollock het die selfoonskerm weer nadergetrek, die foto bekyk en breed geglimlag: “Ek gaan die foto op Twitter deel en sê hy is nou so goed oor al die kolfwenke wat ek vir hom gegee het.”

Met sy kolfwerk het daardie seuntjie van Klerksdorp nou die wêreld aan sy voete.

Selfs die legendariese Indiese kolwer Sachin Tendulkar, wat die toetsrekord hou van 15 921 lopies in 200 wedstryde, het onlangs gesê Labuschagne laat hom aan homself dink – veral wat sy gemaklike voetwerk betref.

Labuschagne vier sy eerste dubbele honderdtal vir Australië. Foto: Getty Images

“Sjoe, ’n kompliment van ’n speler van Sachin se kaliber is regtig ongelooflik,” het Labuschagne vandeesweek aan Rapport gesê. Tydens die onderhoud het hy meestal Engels gepraat, maar sy Afrikaans is nog suiwer en aksentloos.

“Dis spesiaal, dis moeilik om in woorde uit te druk wat dit beteken, komende van iemand wat jy hoog geag het gedurende jou grootwordjare.”

’n Paar dae later het Labuschagne die Australiese Toetsspeler van die Jaar-prys voor die neus van Steve Smith, een van die beste kolwers moontlik van alle tye, weggeraap.

“ ’n Geweldige eer,” sê Labuschagne beskeie.

“Des te meer omdat ek die afgelope paar jaar na ouens soos Steve, David Warner, Pat Cummins en Mitchell Starc opgekyk het. Uiteindelik bly krieket ’n spansport, en dis ’n voorreg om pryse te kan wen op grond van uitstekende spanvertonings.

“Dit was ’n groot jaar vir my, maar nog meer so was dit ’n goeie jaar vir Aussie-krieket,”

Labuschagne het juis vir Smith vervang toe dié harsingskudding opgedoen het in die tweede toets van verlede jaar se reeks om die As op Lords, en ’n manhaftige 59 geslaan wat sy span gehelp het om ’n gelykopuitslag af te dwing.

Marnus en sy vrou, Rebekah.

“Geleenthede in krieket duik gewoonlik op wanneer iemand sy plek in die span verloor of wanneer daar ’n besering is.

“Hoewel dit ’n terugslag vir die span was toe Steve moes onttrek, was dit ’n gulde geleentheid vir my, en gelukkig kon ek uitgaan en die meeste daarvan maak.

“Ek kon my vorm in graafskapkrieket voortsit in die toetsarena.”

In die 2019-seisoen het hy 1 114 lopies in tien wedstryde vir Glamorgan geslaan.

By Glamorgan is daar nuwe lewe in sy spel geblaas. Hy het sy toetsbuiging in November 2018 gemaak, maar kon slegs ’n gemiddeld van 26.25 ná sy eerste vyf toetse handhaaf.

Daardie statistiek, en die feit dat hy opgeroep is met ’n eersterangse gemiddeld slegs in die vroeë 30’s vir Queensland, het ander Shield-spanne in Australië erg omgekrap. Veral spelers van Victoria het gebrom omdat hy ’n toetskans gekry het voor spelers soos Matthew Wade en Peter Handscomb.

Maar by Glamorgan het alles net begin kliek toe die afrigter Matthew Maynard hom met ’n klein tegniese aanpassing gehelp het, wat sy voetwerk betref.

Hy kon toe sy kans as harsingskuddingplaasvervanger aangryp. Die gevolg: Hy is benoem in die IKR se Toetsspan van die Jaar en hy het die meeste toetslopies – 1 104 in 17 beurte teen ’n gemiddeld van net onder 65 – in 2019 geslaan. Dit het drie honderdtalle teen Pakistan en Nieu-Seeland ingesluit, voor sy loopbaan-beste van 215 teen die Kiwi’s op die SCG in Januarie.

“Om ’n dubbele honderdtal in ’n toets aan te teken, is iets waarvan ’n mens net kan droom.

“Om daardie droom in Sydney te bewaarheid, was ongelooflik.”

Labuschagne het ook beurte van 46 en 54 in sy eerste twee eendagwedstryde geslaan, en hoop om in die toekoms gereelde vir Australië diens te doen in al drie weergawes van die spel.

Die 25-jarige Labuschagne is juis tans in Suid-Afrika vir die eendagreeks teen die Proteas, wat Saterdag in die Paarl begin ná afloop van die T20-reeks.

Marnus Labuschagne saam met, van links na reg, sy suster Amé, pa Lappies, vrou Rebekah en ma, Alta, net voor sy toetsbuiging in Dubai.

“Ek het die eerste tien jaar van my lewe hier deurgebring, en om nou die geleentheid te hê om terug te kom en hier krieket te speel, is spesiaal. Veral omdat ek nog heelwat familie hier het.

“Ek is egter mal daaroor om vir Australië te speel.

“Omdat ek nog bitter jonk was toe ons geëmigreer het, het die feit dat ek uiteindelik Australië sou verteenwoordig, heel natuurlik gekom.

“Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat ek in my aangenome land gebied is om my spel te ontwikkel, en om te speel.”

Sowel sy pa, Lappies, as ma, Alta, het in die 1980’s aan die destydse Potchefstroomse Universiteit gestudeer. Hulle het in 2004, toe Marnus tien jaar oud was, Australië toe geëmigreer nadat Lappies, wat in die mynwese werksaam is, ’n goeie aanbod gekry het.

“Omdat ek nog so jonk was, kon ek maklik aanpas,” sê Labuschagne.

“Dit was aanvanklik moeilik om so baie van ’n mens se familie agter te laat, maar Australië is ’n merkwaardige land, met ongelooflike geleenthede.

“My ouers, en suster, Amé, moes vir jare opoffer om my rond te karwei na klinieke en wedstryde toe.

“Ek is hulle baie dank verskuldig, en natuurlik ook my pragtige vrou, Rebekah.” Marnus en Rebekah Labuschagne sal in Mei drie jaar getroud wees.

Van helde en rolmodelle was daar oorgenoeg, en in dié opsig het die Proteas darem ook ’n rol gespeel in sy krieketopvoeding.

“Kleintyd in Suid-Afrika was ek versot daarop om Jacques Kallis, Shaun Pollock en Lance Klusener dop te hou.”

Nadat hulle Australië toe verhuis het, was dit die Aussies se goue era met legendes soos Ricky Ponting, Damien Martyn en Matthew Hayden wat hom betower het.

“So, ek het basies die beste van twee wêrelde gehad.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.