Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dié ‘korona-sproei’ ruik dan soos Doom!
Janneman Malan en ’n rits ander Proteas is ná drie maande vandeesweek weer terug op die oefenveld. Foto: Gallo Images

Dit kan krieketspelers ’n ruk neem om gewoond te raak aan al die Covid-19-protokolle wat hulle voortaan by oefeninge sal moet nakom.

“Ons gebruik so ’n tipe sproei wat ons voor en ná die tyd op alles moet spuit en dit ruik soos Doom. . . maar hulle sê dis ’n tipe korona-reinigingsproei,” het die Protea-kolwer Janneman Malan Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Malan is deel van Krieket Suid-Afrika (KSA) se hoëprestasie-groep, wat dié week ’n terugkeer tot die oefenveld maak nadat die sportminister, Nathi Mthethwa, KSA se terugkeer-planne Vrydag goedgekeur het.

Spelers mag nou weer onder streng voorwaardes by die naaste stadion aan hul huise oefen.

Malan was Maandag reeds weer terug in die nette, maar alles was nie heeltemal soos wat dit voor die nasionale inperking was nie.

“Ons het elkeen ons eie plek waar ons ons toerusting moet sit, wat ’n gesonde afstand weg is van die ander spelers. Ons word voor die tyd by ’n punt vir koors getoets.

Dis beslis iets nuuts, maar as ’n mens aan die gang kom, is al daardie goed bysake.
Janneman Malan

“Dis beslis iets nuuts, maar as ’n mens aan die gang kom, is al daardie goed bysake,” sê dié 24-jarige aanvangskolwer.

Hy het gejeuk om weer te kolf en moes homself so effens beteuel.

“Kolwers wil mos maar net die bal op die kolf voel, so ek moes myself inhou om net ’n bietjie langer vir die bal te wag die eerste paar houe.

“As jy daaraan dink, dit was nou omtrent drie maande wat ons nie kon oefen nie en ’n krieketspeler sal in sy ganse loopbaan nie sommer langer as twee maande gaan sonder om ’n bal te slaan nie.

“Dit was lekker om weer aan die basiese dinge te werk, sonder die geraas wat in die seisoen in jou kop is. Ek het tydens die inperking ook aan nuwe goed gedink wat ek kan implementeer.”

Wiaan Mulder sukkel maar om aan “die hele masker-storie” gewoond te raak. Foto: Gallo Images

In Johannesburg het die jong veelsydige speler Wiaan Mulder ook Maandag weer saam met vyf ander Proteas onder die wakende oog van die Lions-afrigter, Wandile Gwavu, begin slyp.

“Dit was interessant met al die nuwe protokolle wat ons moet volg, net sodat ons kan kolf en boul,” het Mulder (22) Dinsdag gesê.

“Ek sukkel nog ’n bietjie met hierdie hele masker-storie. Ek kan nie lekker asemhaal met daai ding nie, so dis vir my die grootste aanpassing.

“Die hande was en reiniging is nie regtig vir my ’n kwessie nie, dis maar normaal. Maar die masker-storie en dié dat jy net aan een bal mag raak . . . dis ’n bietjie frustrerend.”

Gwavu het Maandag gesê as deel van die streng gesondheidsmaatreëls mag spelers ook nie bladskud nie en elke speler mag net sy eie krieketbal gebruik.

“Die boulers boul met hul eie balle, dan maak hulle dit die aand skoon, bring dit die volgende dag terug en maak seker niemand vat aan hul balle nie,” het Gwavu gesê.

Ek kan wel nie vir jou sê hoe lekker dit was om net weer ’n paar balle te slaan, te vang en te boul nie.
Wiaan Mulder

Mulder sê hy is Dinsdag weer getoets. Dit is nietemin vir hom ’n fees om terug op die krieketveld te wees.

“Ek het gesukkel aan die begin, want ek het in Januarie laas krieket gespeel. Ek kan wel nie vir jou sê hoe lekker dit was om net weer ’n paar balle te slaan, te vang en te boul nie.

“Die inperking het ons net weer laat besef hoe gelukkig ons is om krieket te kan speel.”

KSA se hoëprestasie-groep:
Quinton de Kock, Dean Elgar, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Junior Dala, Theunis de Bruyn, Rassie van der Dussen, Shaun von Berg, Dwaine Pretorius, Heinrich Klaasen, Temba Bavuma, Reeza Hendricks, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Wiaan Mulder, Bjorn Fortuin, Andile Phehlukwayo, David Miller, Sarel Erwee, Khaya Zondo, Daryn Dupavillon, Keshav Maharaj, Senuran Muthusamy, Keagan Petersen, Imran Tahir, Marques Ackerman, Lutho Sipamla, Edward Moore, Anrich Nortjé, Sisanda Magala, Glenton Stuurman, Jon-Jon Smuts, Rudi Second, Pite van Biljon, Raynard van Tonder, Gerald Coetzee, Pieter Malan, Zubayr Hamza, Janneman Malan, Faf du Plessis, Tony de Zorzi, Beuran Hendricks, Nandré Burger, George Linde, Kyle Verreynne.


Meer oor:  Janneman Malan  |  Wiaan Mulder  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Voorsorg  |  Hoëprestasie-Groep  |  Oefen  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.