Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Windies wys hul is weer ’n wêreldkrag

Die Wes-Indiese Eilande kan met ’n sege in die naweek se tweede toets teen Engeland in Manchester aankondig dat hy terug is as ’n wêreldkrag in krieket.

Jason Holder vier ’n paaltjie tydens sy span se oorwinning oor Engeland in die eerste toets in Southampton. Foto: Reuters

Die huidige Windie-span kan straks nie met die legendariese spanne van die jare sewentig en tagtig saampraat nie, maar ná amper 25 maer jare is hy beslis weer mededingend op toetsvlak.

Die Windies het Sondag die eerste toets in Southampton met vyf paaltjies gewen en is beslis nie gevlei deur die telling nie. Die besoekers het die toets oorheers.

Dit was die eilandmanne se vyfde oorwinning in hul laaste agt toetse teen Engeland. Die Windies het ook verlede jaar se tuisreeks teen Engeland met 2-1 gewen. In daardie reeks het die Windies die eerste twee toetse in Barbados en Antigua gewen voordat Engeland die “dooie toets” in St. Lucia beklink het.

En een van die vernaamste redes vir die Windies se ommekeer, is die uitstaande spel en leierskap van sy kaptein, Jason Holder.

Hy is tans eerste op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir veelsydige spelers. Sy 6/42 in Engeland se eerste beurt het gehelp om die tuisspan vir 204 uit te boul en het die grondslag vir die oorwinning gelê.

Die was die sesde keer in die laaste 11 toetse dat hy vyf paaltjies in ’n beurt laat kantel het.

Hy boul soos ’n leniger Vernon Philander. Hy het straks nie soveel vaardighede soos die Protea-naatbouler nie, maar is amper net so akkuraat en kry baie meer wip. Dodelik as ’n mens in ag neem dat hy die Windies se vierde naatboul-opsie is.

Stuart Broad boul Dinsdag in die oefennette op Old Trafford. Foto: Getty Images

Dan handhaaf hy boonop ’n toetsgemiddelde met die kolf van meer as 32. Veelsydige spelers soos dié is so skaars soos hoendertande.

Dit is egter sy leierskap wat die grootste invloed het. Hy het ruggraat teruggesit in Windie-krieket. Daar was ’n paar situasies in die eerste toets waar Windie-spanne van die laaste 25 jaar sou boedel oorgegee het, maar nie dié span nie. Hy het elke keer vasgebyt en dis hoekom hy die toets gewen het.

Dit is boonop behaal te midde ’n pandemie waar die span amper vir ’n maand lank al in isolasie verkeer het.

Engeland sal dié naweek op Old Trafford gestu word met die terugkeer van sy kaptein, Joe Root. Hy het die eerste toets weens die geboorte van sy tweede kind misgeloop.

Die groot vraag is of die ervare naatbouler Stuart Broad ’n terugkeer gaan maak.

Die meeste kenners in Engeland glo dat die span ’n flater begaan het deur Broad weg te laat vir die eerste toets. Hy was duidelik nie gelukkig met die spanbestuur wat James Anderson, Jofra Archer en Mark Wood verkies het nie.

Dit is egter vreemd dat Engeland ná twee kolfineenstortings in die eerste toets eerder op sy boulaanval fokus.

• Die tweede toets begin Donderdag om 12:00 (SA tyd) en word regstreeks op SS 2 uitgesaai.

Meer oor:  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Jason Holder  |  Toetskrieket  |  Windies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.