Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dinsdag D-dag in KSA en Moroe se sage

Die voortslepende Thabang Moroe-sage kan Dinsdag ’n beduidende nuwe rigting inslaan, een wat moontlik deur regsaksie op die spits gedryf sal word.

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se geskorste uitvoerende hoof. Foto: Gallo Images

Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se geskorste uitvoerende hoof, het op 22 Julie ’n kennisgewing van sy werknemer gekry dat daar gronde vir sy afdanking is en dat hy op Donderdag 13 Augustus voor die KSA-raad moet verskyn om te verduidelik waarom hy nie gepos moet word nie. Na aanleiding van ’n onafhanklike forensiese ondersoek deur Fundudzi Forensic Auditors, het KSA agt klagte aanhangig gemaak teen Moroe, wat in Desember vir beweerde wanbestuur geskors is.

Moroe se regspan het egter Vrydag ’n brief aan KSA gestuur en geëis dat die beheerliggaam die kennisgewing vir die gronde van afdanking voor Dinsdag om 10:00 terugtrek en Moroe die reg gee om voor ’n onafhanklike tugkomitee te verskyn.

As KSA nie hieraan gehoor gee nie, sal Moroe se regspan “alle regsopsies tot sy beskikking” uitvoer om te verseker dat hul kliënt nie voor ’n raad verskyn wat 'n belangebotsing het nie, het Sharlyn Geza, ’n lid van sy regspan, gesê.

Toe ’n woordvoerder van KSA gevra is of die beheerliggaam aan die eise van Moroe se regspan gehoor sal gee en hom liewer voor ’n onafhanklike tugkomitee sal laat verskyn, het hy gesê: “KSA kan nie oor die prosesse en prosedures kommentaar lewer nie”.

Die gronde waarop Moroe se regspan eis dat die kennisgewing van die gronde vir afdanking teruggetrek word en dat Moroe nie Donderdag voor die raad moet verskyn nie, is tweeledig.

In die eerste plek beweer sy regspan dat KSA met die kennisgewing van 22 Julie ’n roete wil volg wat vervat is in ’n klousule van sy indiensnemingskontrak, maar dat Moroe nooit die kontrak onderteken het nie. Tweedens, beweer hulle dat daar in die brief wat Moroe op 24 Januarie van sy skorsing ingelig het, uitgestippel is dat Moroe aan ’n tugproses onderwerp sou word ná aanleiding van die forensiese verslag.

Sy regspan sê hulle is glad nie van plan om Moroe aan ’n raad uit te lewer wat self ook moontlik by die forensiese verslag (waarvan die inhoud nog onbekend is) geïmpliseer kan word nie.

Sy regspan sê hulle is glad nie van plan om Moroe aan ’n raad uit te lewer wat self ook moontlik by die forensiese verslag (waarvan die inhoud nog onbekend is) geïmpliseer kan word nie.

Die partye is dus by ’n kruispad – gee KSA nie Dinsdag gehoor nie, behoort Moroe regsaksie te neem.

Naasei Appiah, die geskorste bedryfshoof, het KSA reeds arbeidshof toe geneem. Die afgedankte Clive Eksteen is ook besig met ’n saak teen KSA by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Intussen moet KSA die naweek op sy raadsvergadering boonop besluit wie neem die leisels oor nadat Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof, ná 15 September terugkeer na sy rol as hoof van die Titans. Moroe wil glo graag terugkeer as KSA se uitvoerende hoof, maar dis onwaarskynlik dat sy saak teen daardie tyd reeds opgelos sal wees.

Die regshoof en sekretaris, Welsh Gwaza, word in krieketkringe genoem as iemand wat, minstens tydelik, die leisels kan neem. Hy het egter die naweek aan IOL gesê hy het nog “geen bykomende mandaat” ontvang buiten sy huidige pligte nie.

Ná ’n paar maande van betreklike stabiliteit, blyk dit dat onstuimigheid en onsekerheid weer die voorland van krieket in die land is.

Meer oor:  Krieket  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.