Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dis hoekom Quinton Proteas lei

Hy word nie noodwendig as ’n toekomstige kaptein van die Protea-krieketspan gespeen nie.

Die spanbestuur het net gevoel dat die bykomende verantwoordelikheid baie vir sy groei as speler kan beteken.

Faf du Plessis. Foto: Gallo Images

So het die aangewese kaptein, Faf du Plessis, die verrassende keuse van Quinton de Kock as waarnemende leier verduidelik. Du Plessis het Vrydag uit Sri Lanka in Suid-Afrika aangeland nadat ’n skouerbesering sy deelname aan die res van die reeks beëindig het.

Wenkbroue het gelig toe die 25-jarige De Kock, met spelers soos JP Duminy, Hashim Amla en Aiden Markram in die groep, gevra is om die span in die laaste twee eendagwedstryde te lei nadat Du Plessis sy skouer in die derde kitswedstryd beseer het.

Suid-Afrika het reeds die reeks met seges in die eerste drie wedstryde beklink.

Du Plessis wys daarop dat van die jonger spelers in die groep nie baie die kans kry om kaptein te wees nie, wat natuurlik ’n geleentheid is om te leer.

“Ek voel iemand soos Quinton sal baie groei deur die bykomende verantwoordelikheid as kaptein.

“Dit beteken nie dat hy eendag die kaptein, of nie die kaptein gaan wees nie, ons beskou dit as ’n geleentheid vir hom om as speler te groei .

Volgens Du Plessis kan De Kock baie daarby baat.

“Hy sal hopelik, wanneer ek uiteindelik terugkeer, beter daaraan toe wees en ’n beter begrip hê van hoe dit voel om ’n senior speler in span te wees.

“Dit is maklik om net op jou eie dinge te fokus as jy net ’n speler is. Jy het nie daardie luuksheid wanneer jy die kaptein is nie, so dit sal hom ander aspekte leer en om ook op al die ander dinge in die span te konsentreer.”

Suid-Afrika het die vierde wedstryd, met De Kock in beheer, met drie lopies volgens die Duckworth-Lewis-stelsel verloor. Hy sal die bordjies in die vyfde en laaste wedstryd Sondag in Colombo wil verhang.

Du Plessis sê hulle het reeds ’n paar vrae geantwoord rakende hul Wêreldbeker-planne.

Die kaptein sê voorts hulle is baie opgewonde oor die aanvangsboulers Kagiso Rabada en Lungi Ngidi, maar dat die deur steeds oop is vir spelers soos Dale Steyn en Vernon Philander om die uiteindelike groep te haal.

“Enigeen kan in die stadium nog hul naam in die hoed gooi.”

Du Plessis het verder onthul dat hy nie ’n operasie aan die skouer hoef te ondergaan nie. Hy het ’n klein skeurtjie in ’n spier opgedoen. Hy sal allig die eendag- en T20-reeks teen Zimbabwe aan die einde van September ook misloop in ’n poging om voldoende te herstel.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Proteas  |  Ottis Gibson  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.