Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dít is Mthethwa se plan met Krieket SA
Nathi Mthethwa, minister van sport, is tevrede noudat Krieket Suid-Afrika se raad bedank het. Foto: Gallo Images

’n Tussentydse raad waarin – onder meer – drie lede van Krieket Suid-Afrika (KSA) se huidige lederaad sal dien, kan die beheerliggaam vir so lank as ses maande bestuur.

Netwerk24 verneem dié voorstelle is Dinsdag gemaak op ’n vergadering tussen Nathi Mthethwa, minister van sport, en KSA se lederaad – die hoogste krieketgesag in die land, bestaande uit die 14 uniepresidente.

Die spelersvereniging (Saca) en Saskok, die sambreelliggaam waaronder KSA val, sal elkeen ’n kandidaat kan benoem om in die tussentydse raad te dien. Dit wil voorkom of die Internasionale Krieketraad (IKR) nie van plan is om ’n kandidaat vir die tussentydse raad te benoem, soos wat vroeër as ’n moontlikheid genoem is nie.

Saskok se plan om ’n taakspan aan te stel om KSA te ondersoek, is egter van die baan. Daar sal ook nie ’n Saskok-raadslid op die tussentydse KSA-raad dien nie, word verneem

Saskok se plan om ’n taakspan aan te stel om KSA te ondersoek, is egter van die baan. Daar sal ook nie ’n Saskok-raadslid in die tussentydse KSA-raad dien nie, word verneem.

Die departement van sport en ontspanning het Woensdag in ’n verklaring gesê die vergadering met KSA se lederaad Dinsdag het konstruktief verloop.

Dit blyk nou dat die minister nié, soos wat hy twee weke gelede gedreig het, ingevolge die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by KSA se sake gaan inmeng nie. Dit volg nadat KSA se raad van direkteure almal tussen Sondag en Maandag bedank het.

KSA het ook Maandag aan die minister geskryf en ’n voorlegging gedoen oor waarom hy nie moet ingryp nie.

“Konsultasievergaderings is (Dinsdag) gevoer met KSA se lederaad, Saskok en Saca,” lui die verklaring van die departement.

“Die vergaderings met Saskok en Saca is gehou met die doel om die uitkomste van die vergadering met KSA te deel en om sleutelrolspelers op die hoogte van die jongste verwikkelinge te hou.

“Die minister het sy waardering vir die leierskap van KSA se lederaad uitgespreek.

Die volgende stap is om die besonderhede van ’n tussentydse raad te finaliseer en om ’n lys van name daarvoor op te stel.

“Die volgende stap is om die besonderhede van ’n tussentydse raad te finaliseer en om ’n lys van name daarvoor op te stel. Verdere besonderhede sal voor die einde van die week aangekondig word.”

Wat egter nog onduidelik is, is die invloed wat die tussentydse raad op KSA se beplande jaarvergadering van 5 Desember gaan hê. Die lederaad is veronderstel om op die jaarvergadering ’n nuwe heeltydse raad te kies.

Netwerk24 verneem die tydperk wat vir die tussentydse raad beplan word, is ’n maksimum van ses maande. Dit is onduidelik of die tussentydse raad ontbind sal word as daar op 5 Desember ’n nuwe, heeltydse raad gekies word, en of KSA eers later ’n nuwe raad gaan kies.

Oudregter Chris Nicholson se aanbevelings oor die samestelling van die KSA-raad het in 2012 al op (Saskok se) dowe ore geval. En dís waar die verrotting begin het. Foto: Gallo Images

Die tussentydse raad sal die taak hê om die wysigings wat KSA aan sy akte van inlywing (die organisasie se grondwet) wil aanbring, deur te voer. Die akte van inlywing word hersien as deel van die padkaart wat KSA opgestel het ná aanleiding van die bevindinge in die Fundudzi- forensiese verslag oor sy bestuurspraktyke.

’n Kernelement van die beplande gewysigde akte van inlywing, sal wees dat sekere van die Nicholson-aanbevelings van 2012 in werking gestel moet word.

Oudregter Chris Nicholson het ná ’n kommissie van ondersoek, aanbeveel dat KSA se raadstruktuur moet verander sodat daar ’n oorgrote meerderheid onafhanklike direkteure op die raad dien.

Tot voor die afgelope week se gebeure het sewe lede van die lederaad ook in die raad van direkteure gedien, wat tot belangebotsinge gelei het. Daar was die laaste paar jaar slegs vyf onafhanklike direkteure op die raad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.