Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dít is vir verlepte Proteas op spel

Wat steek in Enoch Nkwe? Wat het Faf du Plessis nog om te bied? Kan die regte Kagiso Rabada weer sy kop uitsteek? Hoeveel toetslopies is daar in Theunis de Bruyn en Temba Bavuma?

Enoch Nkwe, die Proteas se waarnemende spandirekteur, in gesprek met Faf du Plessis, die kaptein. Foto: Gallo Images

Die reeks teen Indië is reeds verlore, maar wanneer die derde toets Saterdagoggend in Ranchi begin, is daar bitter baie vir die Proteas op die spel. Soveel meer as die 40 punte wat hul rekening in die nuwe Toetskampioenskap kan open.

“Trots” is so ’n geykte woord wanneer platgeslane sportmanne praat oor wat hul motiveer. Vir die Suid-Afrikaanse krieketspan is herwonne trots maar net die begin.

Hierdie toets is ’n geleentheid vir Nkwe, die waarnemende spandirekteur, om met ’n paar slim taktiese truuks vorendag te kom. Vir Du Plessis, Bavuma en De Bruyn om lopies te slaan en vir Rabada om te wys hy kan nog ’n skrikbewind voer. Selfs teen die beste span in die wêreld, in sy eie agterplaas.

“Indië is ’n sterk span en hulle was baie beter as ons tot dusver,” het Du Plessis Vrydag erken.

“Maar ons wil nog steeds teen hulle meeding, selfs in hul eie toestande. As jy lopies in die eerste beurt op die bord kan sit, is enigiets moontlik. Hopelik ontvou dit so. Die blad lyk ’n bietjie droër. Daarom is eerstebeurt-lopies baie belangrik.”

Hy glo draai en omgekeerde swaai gaan ’n groot rol in dié toets speel.

Ons is trotse mense, so dit knou aan jou selfvertroue as jy swak vertoon.
Faf du Plessis

Die kaptein belowe die span het nog nie een voet op die vliegtuig nie.

“Met die Toetskampioenskap wat gespeel word, is daar steeds punte op die spel. Ons is trotse mense, so dit knou aan jou selfvertroue as jy swak vertoon. Maar internasionale sport het hoogte- en laagtepunte en ons moet dit aanvaar.

“Dit is belangrik dat ons op die prosesse fokus so veel as wat ons kan. Dan sal dinge begin omdraai.”

Hierdie ervaring, sê Du Plessis, sal die jong spelers boonop baat vir die res van hul loopbane.

Veral as hulle in die derde toets ’n bietjie kan vasskop en hul eie stempel afdruk. Dit is iets wat Du Plessis ook graag wil doen. Hy voel sy kolfpeil is goed. Nou wil hy dit met ’n groot beurt bewys.

“Dit gaan nou net daaroor om vyftigtalle in honderdtalle te omskep. Ek weet dat 60’s nie vir jou ’n toets gaan wen nie.”

Hierdie is Du Plessis se laaste toets in Indië. ’n Groot beurt kan sy nalatenskap in die subkontinent meer glans gee. Groot beurte vir die ander kolwers, sal hul selfvertroue boonop met rasse skrede laat groei.

Zubayr Hamza sal waarskynlik speelkans kry in die derde toets teen Indië. Foto: Gallo Images

Die toets is ook ’n kans vir Dane Piedt, wat in Keshav Maharaj se afwesigheid weer speelkans behoort te kry, om te wys hy kan ’n draaier van internasionale gehalte wees.

Daar behoort ook ’n geleentheid vir Zubayr Hamza gegee te word, nadat Aiden Markram sy hand uit frustrasie teen ’n “soliede voorwerp” gebreek het.

“Ek wil nie te veel sê nie, maar ons maak ’n paar veranderinge aan die span. Die kolflys gaan beslis verander.”

Een van De Bruyn, Bavuma of dalk selfs Quinton de Kock kan die beurt saam met Elgar begin.

Maar hoe die kolflys ook al daaruitsien – hierdie is ’n skitterende kans vir die Protea-kolwers om ’n soliede grondslag vir die herboufase te lê.

* Spanne: Indië (uit): Virat Kohli (k), Ajinkya Rahane, Rohit Sharma, Mayank Agarwal, Cheteshwar Pujara, Hanuma Vihari, Ravichandran Ashwin, Ravindra Jadeja, Wriddhiman Saha, Ishant Sharma, Mohammed Shami, Umesh Yadav.

Suid-Afrika (uit): Dean Elgar, Theunis de Bruyn, Temba Bavuma, Faf du Plessis (k), Vernon Philander, George Linde, Dane Piedt, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi. Senuran Muthusamy, Zubayr Hamza, Anrich Nortjé.

Begintyd: 06:00 op SS 2.

Meer oor:  Krieket  |  Indië  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.