Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dít is wat jy moet weet van chaos by KSA

Dat daar chaos by Krieket Suid-Afrika (KSA) is, dít weet almal. Maar wat presies die chaos behels, is soms onduidelik, want dit is ’n behóórlike deurmekaarspul.

Netwerk24 verduidelik hoe alles inmekaarsteek.

Thabang Moroe, die afgedankte uitvoerende hoof van KSA. Foto: Elizabeth Sejake

Waar het die krisis begin?

KSA word eintlik al sedert die bonusskandaal van 2009 deur probleme lamgelê. Die destydse uitvoerende hoof, Gerald Majola, is geskors oor bonusse wat hy sonder goedkeuring aan KSA-beamptes uitbetaal het nadat die Indiese Premierliga (IPL) suksesvol in Suid-Afrika aangebied is.

’n Ondersoekkommissie is deur die destydse minister van sport, Fikile Mbalula, gelas. Oudregter Chris Nicholson het die ondersoek gedoen en verskeie aanbevelings gedoen (meer hieroor later).

Majola is in 2012 gepos en Haroon Lorgat het by hom oorgeneem en ’n paar jaar van relatiewe stabiliteit in KSA se bestuur het gevolg.

Lorgat is egter in September 2017 onder ’n wolk van omstredenheid weg by KSA nadat sy beplande T20 Global League nie van die grond af kon kom nie.

Thabang Moroe het by hom oorgeneem – eers as waarnemende uitvoerende hoof, voordat hy in Julie 2018 vas aangestel is.

Van die begin van sy termyn af was hy haaks met die SA Spelersvereniging (Saca), wat een van verskeie redes is waarom hy in Desember 2019 geskors is.

Dít, Moroe se skorsing, is eintlik waar die aanloop tot die huidige krisis begin.

Waarom is minister Nathi Mthethwa betrokke?

Met Moroe se skorsing, het KSA se destydse raad ’n onafhanklike forensiese verslag na KSA-bestuurspraktyke aangevra. Dié verslag, deur die forensiese ondersoekers Fundudzi, is einde Julie (2020) aan KSA se raad oorhandig, wat naarstig daaraan vasgeklou het.

Die verslag het ’n warboel van finansiële ongerymdhede, onbevoegdheid en strukturele en prosedurele probleme by KSA blootgelê en is gebruik om Moroe in Augustus 2020 te pos.

KSA se destydse raad het gesê dat hy ’n “padkaart” wil saamstel wat gebruik moet word om die beheerliggaam weer op koers te kry. Een groot kwelpunt – ook vir die portefeuljekomitee vir sport, aan wie KSA en alle ander sportorganisasies gereeld voorleggings moet doen – was dat KSA nie die Fundudzi-verslag aan die publiek bekend wou maak nie.

Op 31 Augustus het KSA aangekondig dat hy sy beplande jaarvergadering, wat op 5 September sou plaasvind, uitgestel het en met belanghebbendes, soos die minister en die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), waarvan KSA ’n lid is, sou skakel.

Die minister het só betrokke geraak en Saskok opdrag gegee om KSA uit te sorteer.

Wat het Saskok gedoen?

Saskok wou ’n onafhanklike taakspan aanstel om KSA reg te ruk, maar wou eers onbeperkte toegang tot die Fundudzi-verslag bekom. KSA wou dit nie gee nie. KSA was ook nie te vinde vir ’n taakspan nie.

Saskok het die saak toe terugverwys na die minister.

Wat is die verskil tussen die tussentydse raad en die lederaad?

In Oktober 2020 het minister Mthethwa KSA met ingryping ingevolge die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning gedreig, wat hom die mag gee om KSA onder meer nie meer as ’n nasionale beheerliggaam te erken nie.

Onder dié druk het die gewese raad, onder leierskap van die KSA-president, Beresford Williams (wat in Augustus 2020 oorgeneem het ná die bedanking van Chris Nenzani), bedank.

Mthethwa het ’n tussentydse raad aangestel om KSA se kwale op te los.

Die tussentydse raad het vroeg reeds met KSA se lederaad gebots. Die lederaad bestaan uit die 14 presidente van die provinsiale unies (by Vrystaat, Oostelikes, KwaZulu-Natal, Boland) en is die hoogste besluitnemende gesag in krieket.

Die lederaad stel KSA se raad aan, terwyl die raad die gesag het oor die uitvoerende personeel (die uitvoerende hoof, finansiële hoof, ensovoorts).

Die lederaad was dus ook verantwoordelik vir talle van die kwessies waaronder KSA vroeër gebuk gegaan het.

Een van die probleme wat oudregter Nicholson in sy verslag na die bonusskandaal uitgelig het, is dat daar te veel sentra van beheer in krieket is.

Nóg ’n probleem is die samestelling van die raad.

Volgens KSA se huidige akte van inlywing, oftewel sy grondwet, bevat die raad vyf onafhanklike direkteure en sewe nie-onafhanklike direkteure. Die nie-onafhanklike direkteure word uit die geledere van die lederaad gekies, maar dít lei tot belangebotsings.

Nicholson het reeds in 2012 (toe hy sy ondersoek gedoen het) aanbeveel dat die raad meer vaartbelyn moet wees en uit ’n meerderheid van onafhanklike raadslede moet bestaan.

Deel van die mandaat wat Mthethwa aan die tussentydse raad gegee het, is om KSA se grondwet te verander om ’n meer onafhanklike raad in die toekoms te verseker.

Dit is belangrik om te noem dat geen lid van die tussentydse raad in die toekomstige, heeltydse raad van KSA gaan dien nie.

Die tussentydse raad kry teenkanting van sekere lede van die lederaad, want hulle wil nie hê die grondwet moet verander word om ’n meer onafhanklike raad te verseker nie. Want dít sal natuurlik beteken dat lederaadslede hul mag in die organisasie verloor.

Die lederaad voer aan dat krieketmense krieket moet bestuur en dat onafhanklike direkteure nie noodwendig goeie direkteure is nie.

Hoekom tree Mthethwa in?

Die minister dreig KSA nou met regeringsinmenging, want die lederaad weier om die grondwet te verander.

Die lederaad weier om ’n nuwe koers in te slaan en daar is geen waarborge dat die bestuursprobleme opgelos sal word nie.

Die tussentydse raad het reeds goeie werk verrig en het byvoorbeeld ook die Fundudzi-verslag bekend gemaak. Hulle wil nie vir altyd met die lederaad baklei nie, want dit is almal mense met werk buite krieket.

As die lederaad aanhou weier dat die grondwet hersien word om ’n meer onafhanklike raad te verseker, belyn met internasionale standaarde, is die vrees dat die spel maar net altyd gebuk sal gaan onder amateurs wat hul eie belange vooropstel.

Wat gebeur nou?

As KSA nie meer as ’n amptelike beheerliggaam erken word nie, is die Proteas nie meer ’n amptelike nasionale span nie.

Die Internasionale Krieketraad kan ook intree en KSA vir regeringsinmenging skors. Dit sal beteken die Proteas kan nie meer aan internasionale reekse of toernooie deelneem nie.

Meer oor:  Ksa  |  Ksa-Raad  |  Bestuurskrisis  |  Krieket Suid-Afrika  |  Krieket Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.