Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mulder, Klaasen kry kans in toetsgroep
Dit voel soos ’n droom, jubel Wiaan
Wie gaan die 100ste man vir SA wees?

Die 20-jarige Wiaan Mulder, wat in sy jong loopbaan telkens met ’n Jacques Kallis vergelyk is, het nog ’n treetjie gegee in die spore van die legende wat kleintyd sy groot held was.

Hy is Saterdag saam met die paaltjiewagter Heinrich Klaasen toegevoeg tot die Proteas se toetsgroep vir die reeks teen Australië wat Donderdag in Durban begin.

Wiaan Mulder kan nou nog nie glo dat hy by die Protea-span ingesluit is nie.Foto: gallo

Daar was nie weer plek in die toetsgroep vir die veelsydige Andile Phehlukwayo en Chris Morris nie, terwyl die snelbouler Duanne Olivier ook weggelaat is.

Klaasen, wat in die eendag- én die T20-reeks teen Indië met die Speler van die Wedstryd-prys weggestap het, was ’n slag in Nieu-Seeland in die toetsgroep, maar het nog nie sy buiging gemaak nie.

Die veelsydige Mulder van die Lions het aan die begin van die seisoen – in die derde eendagwedstryd teen Bangladesj in Oos-Londen – sy kitsbuiging vir die Proteas gemaak.

Hy het voor die toetsreeks teen die Tiere, toe hy vir Wayne Parnell in die groep moes instaan, ’n eerste proesel van die Proteas se kleedkamer gehad.

Mulder het vandeesweek in ­Benoni ook ’n voorsmaak van die Aussies gekry in die toerspan se oefenwedstryd teen Suid-Afrika A.

Mulder sê hul afrigter, Russell Domingo, het hom geroep en toe hy die naam van Linda Zondi, nasionale sameroeper, op die selfoon van die breier sien, het hy geweet daar broei iets.

“Ek kon dit nie glo toe hy vir my sê ek is gekies nie. Trouens, ek kan dit steeds nie glo nie,” sê Mulder.

En hoe voel hy oor die moontlikheid om teen ’n span soos Australië dalk sy buiging te maak?

“Dis ’n ongelooflike ervaring. Ek kon hier met ons wedstryd teen hulle in Benoni sien hoe wêreldklas hulle is.”

Hy het ná die wedstryd aan Christo Buchner gesê dit sal ’n ongelooflike ervaring wees as hy die volgende nuweling is wat gekies word om toetskrieket te speel en sodoende die 100ste speler word wat Suid-Afrika sedert hertoelating in toetskrieket verteenwoordig.

“Wow, ek het dit nie geweet nie. Dit sal iets baie spesiaal wees as ek daardie speler kan wees,” het hy by Willowmoore-park gesê. Dit blyk in dié stadium dat hy en Klaasen in ’n wedloop is om nommer 100 te word.

Heinrich Klaasen in aksie vir die Titans.

“Ek was uit die veld geslaan toe ek die oproep kry dat ek in die toetsgroep is. Ek het dit regtig nie nou al verwag nie. Dit het uit die bloute gekom. Dit is egter ’n groot eer om in hierdie uitgelese geselskap te wees, hoewel ek realisties genoeg is om te besef dit is maar alles deel van my leerproses.

“Ek beskou myself meer as ’n kolwer wat boul, maar onder Gordon Parsons by die Lions het my boulwerk baie verbeter. Ek boul wel nog swak balle en werk daaraan, maar dit verbeter algaande,” sê hy.

“Om teen ’n span soos Australië te kon speel, was iets besonders en ’n uitstekende geleentheid om ervaring op te doen op dié vlak,” sê hy.

  • Die Proteas se vooraf beseerdes, die kaptein Faf du Plessis, Temba Bavuma, Quinton de Kock en AB de Villiers, is ook in die groep, terwyl die snelbouler Dale Steyn straks later by die reeks van vier toetse betrek kan word.

Steyn het sy hak vroeër in die eerste toets teen Indië op Nuweland beseer.

Die bestuurspan wil nou hê hy moet eers ’n meerdagwedstryd vir die Titans speel voordat hulle weer oor hom praat.

Bavuma kry vandag in ’n klubwedstryd vir die Soweto-krieketklub kans om te wys hy het voldoende herstel. Hy het ’n vinger gebreek in ’n wedstryd vir die Cape Cobras teen die Knights.

De Villiers is weens ’n kniebesering as ’n voorsorgmaatreël aan die T20-reeks teen Indië onttrek, sodat hy gereed vir die toets teen die Aussies kan wees.

Du Plessis het ’n vinger gekraak in die Proteas se eerste eendagwedstryd teen Indië.

Die bestuurspan gaan na verneem word alles in hul vermoë doen om die kaptein op Kingsmead in te span.

De Villiers was al menigmaal ’n doring in die vlees van die Aussies.

De Kock het van sy berering aan ’n polsgewrig herstel, maar sal op sy tone wees met Klaasen wat nou weer in die groep is.

Die draaier Keshav Maharaj behoort terug in die elftal in Durban te wees nadat hy nie in die laaste toets teen Indië in aksie was nie.

Die Proteas kan met die goeie snelaanval van die Aussies dalk dié keer ’n bykomende kolwer oorweeg.

Theunis de Bruyn was in die Knights se laaste twee meerdagwedstryde op sy stukke met beurte van 190 en 83.

Hy het ook in Suid-Afrika A se wedstryd in Benoni met ’n flink 46 van net 43 balle goed gevaar voordat ’n twyfelagtige beslissing sy kolfbeurt beëindig het.

Hy kan dalk oor die vingers getik word omdat hy vir die skeidsregter mooi gewys het die bal het sy skouer en nie die kolf getref nie.

  • Hy is Saterdag vir net vyf in die tweede beurt uitgehaal.
Meer oor:  T20-Reeks  |  Heinrich Klaasen  |  Jacques Kallis  |  Wiaan Mulder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.