Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Miller dra weer eindelik by: Ditsem, Proteas!

2de T20-wedstryd, Belfast

Suid-Afrika 159/7 (20 boulbeurte)

Ierland 117 (19.3 boulbeurte)

* SA wen met 42 lopies.

David Miller Foto: Getty Images

Dís mos die David Miller wat Suid-Afrika nodig het.

Nadat dié mokerman gesukkel het om die tempo te versnel in die Proteas se laaste ses T20-wedstryde, het hy sy span Donderdag van vernedering gered.

Die Proteas het in Belfast geploeter in hul kolfbeurt. Aan die einde van die eerste boulbeurt was Temba Bavuma (0) en Janneman Malan (0) albei terug in die paviljoen. Ná tien boulbeurte was die Proteas kniediep in die dinges op 58/5.

Miller en Wiaan Mulder (36, 26 balle) het die span toe met ’n vennootskap van 58 lopies om die sesde paaltjie uit die moeilikheid gehelp, maar toe Mulder aan die begin van die 18de boulbeurt uit is, was Suid-Afrika op 116/6 nog nie heeltemal op ’n gemaklike plek nie.

Daarna het Miller die Proteas oplaas weer gehelp om ’n paar opstoppers in die doodsnikke te plant. Hy het vier sesse in die laaste boulbeurt geslaan om op ’n spoggerige onoorwonne 75 lopies van slegs 44 aflewerings te eindig.

Dít is wat Suid-Afrika nodig het, en nodig gehad het in omtrent al vyf hul T20-wedstryde in die Windies – ’n kanonkolwer in die doodsnikke. Miller neem steeds ’n paar aflewerings om aan die gang te kom, maar dié beurt sal hom, en die Protea-keurders, daaraan herinner dat hy kán in die doodsnikbeurte skade aanrig.

Die res van die kolflys, buiten vir Quinton de Kock (27, 20 b) het egter nie veel om op trots te wees nie. Dit was die deeltydse draaier Paul Stirling (2/12 in drie boulbeurte) wat die groot skade aangerig het deur in die eerste boulbeurt van Bavuma en Malan ontslae te raak.

Die Proteas het darem self ook ’n vroeë slag geslaan toe Bjorn Fortuin in die eerste boulbeurt van die gevaarlike Kevin O’Brien (0) ontslae geraak het. Andrew Balbirne (6) is ook in die kragspel uit.

Daarna het die wêreld se beste T20-bouler, Tabraiz Shamsi (3/14 in vier bbe.) wéér moles gemaak. Sy statistiek vanjaar is verbysterend. Hy het 24 paaltjies in 14 wedstryde platgetrek, teen ’n gemiddeld van 12.20 lopies per paaltjie.

Fortuin (3/16 in vier bbe.) was ook puik in sy eerste wedstryd in Ierland. Lungi Ngidi (1/14 in 3.3 bbe.) het sy beste vertoning van die seisoen gelewer.

Beuran Hendricks (2/28 in vier bbe.) kan ook tevrede voel. Dit is sy eerste speelkans van die ganse toer – die vyf T20-wedstryde teen die Windies ingesluit.

Die Proteas het egter wéér ’n paar vangkanse verbrou. Fortuin en Aiden Markram het albei ’n maklike kans laat val en dit sal die span mateloos frustreer, veral nadat presies dieselfde twee spelers (ironies genoeg) later in die wedstryd skitterende vangkanse benut het. Dié keer het dit hulle darem nie duur te staan gekom nie.

Die Proteas het ’n paar nuwe spelers kans gegee in dié wedstryd, soos Mulder, Fortuin en Hendricks, en sal daarom tevrede voel met die uitslag. Veral ná die benarde posisie waarin hulle vroeër was.

Nou hoef hulle darem nie Saterdag se derde wedstryd te betree met die reeks op die spel nie.

TELKAART

Meer oor:  David Miller  |  Beuran Hendricks  |  Tabraiz Shamsi  |  Ierland  |  Belfast  |  Toer  |  Krieket  |  T20-Reeks  |  Proteas  |  Mokerman  |  Oorwinning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.