Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Donker tydperk lê vir Proteas voor

Protea-ondersteuners kan hulself gerus geestelik pantser en emosioneel afstomp, want daar lê ’n paar maer jare voor.

Jy weet dis lelik as Krieket Suid-Afrika (KSA) self besluit om – met sy Protea-krieketspan in die middel van ’n toetsreeks – ’n nuusverklaring uit te reik waarin hy vir geduld by ondersteuners pleit.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein. Foto: Gallo Images

Die nasionale beheerliggaam, wat self ook tot ’n mate verantwoordelik is vir die gemors waarin die span homself bevind, moet dit wel gelyk gegee word dat die uittrede van sterre soos Hashim Amla, AB de Villiers, Morné Morkel en Dale Steyn ’n groot terugslag is.

Dit is ook so dat Indië op die oomblik verreweg die beste toetsspan in wêreldkrieket is.

“Dit is altyd moeilik om teen die beste span in die wêreld te speel, veral in sy tuistoestande,” sê Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof.

“Hierdie is eintlik opwindende tye vir Suid-Afrika, met spelers soos Aiden Markram, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Zubayr Hamza wat in die laaste paar jare deurgekom het.”

Hy sê dít is ’n bewys dat die ontwikkelingstelsels goed werk.

Corrie van Zyl, die waarnemende direkteur van krieket, herinner ondersteuners ook aan hoe goed hierdie Indiese span is.

Hy voeg by dat hy vol vertroue is Suid-Afrika beskik oor spelers om wedstryde te wen en dat die jonges sal regkom.

“Die span probeer strykdeur maniere vind om te wen. Dit is nie asof hulle daardie taak nie uitstekend verrig nie.”

Enoch Nkwe, die waarnemende spandirekteur van die Proteas. Foto: Gallo Images

Ja, die Proteas het pas lelik op hul baadjie gekry en die tweede toets teen Indië in Pune met ’n allemintige beurt en 137 lopies verloor, maar byt net vas, dinge gaan beter word. Dít is, in ’n neutedop, KSA se pleidooi.

Maar hóé gaan dinge beter word? Die derde en laaste toets teen Indië begin Saterdag in Ranchi.

Enigiets buiten nog ’n reuse-oorwinning vir die tuisspan, sal ’n verrassing wees.

Daarna ruk Engeland na Suid-Afrika op vir ’n reeks van vier toetse, wat in Desember begin. Moroe sê hy is vol vertroue dat die span teen daardie tyd beter sal lyk.

Hulle sal waarskynlik, want die toestande sal bekend aan die spelers wees. Markram weet nie hoe om in die subkontinent toetslopies te slaan nie, maar in Suid-Afrika kan hy dít baie goed doen.

Rabada kan kolwers nie in Indië op ’n streep kleedkamer toe stuur nie, maar hier kan hy.

’n Groot probleem is juis dat hierdie Protea-span werklik die beste spelers in die land bevat. Watter beskikbare speler is nie in die groep nie, maar sou werklik ’n verskil kon maak? Niemand.

Kolpak-spelers soos Kyle Abbott, Duanne Olivier, Simon Harmer en Rilee Rossouw sou beslis tot die diepte van die nasionale span bygedra het, maar hulle het elkeen hul keuses gemaak. Die rand kan eenvoudig nie met die pond meeding nie.

KSA het tot hierdie misoes van ’n toer bygedra deur die waarnemende spandirekteur, Enoch Nkwe, sonder enige noemenswaardige ervaring roekeloos vir die wolwe te gooi.

Dit sal interessant wees om te sien hoe KSA hom behandel as die Proteas terugkom. Stel hulle hom ná hierdie ramptoer heeltyds aan, sal hulle baie ondersteuners vervreem. Dit sal egter net so onregverdig wees om hom te pos, want dit was KSA wat hom in die eerste plek met boeie aan sy voete in die see gesmyt het.

’n Jong, belowende afrigter soos hy sal mos nooit die kans verby laat gaan om sy land te brei nie. Maar kan ’n groentjiebreier herstel van die skade wat dié toer sy reputasie aangedoen het? Dit is eintlik skreiend dat KSA iemand so kan behandel.

Die hoop beskaam nie dat ’n span met talentvolle spelers soos Markram, Quinton de Kock, Rabada en groentjies wat nog deurkom soos Wiaan Mulder, Gerald Coetzee, Matthew Breetzke, Raynard van Tonder, onder vele andere, weer die spits van wêreldkrieket kan bereik nie – mits plaaslike krieket sterk bly. Of KSA se herstrukturering van ses eersterangse spanne na 12 dít kan verseker, sal ’n groot impak op die langtermynsukses van die nasionale span hê.

Maar voor enige noemenswaardige sukses, gaan baie toetse nog verloor word. Baie harte gaan gebreek word.

Ondersteuners kan net hoop KSA het die intellektuele kapasiteit om die groeiproses reg te bestuur.

Meer oor:  Ksa  |  Indië  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.