Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Duanne, muggies pla Pakistan

Nie ’n swerm ongenooide en lastige muggies of sewe verbroude kanse in die veld kon Saterdag die glans van ’n vyfster-boulvertoning by die Protea-snelbouler Duanne Olivier steel nie.

Duanne Olivier stuur een van sy kartetse af. Foto: AP Photo

Sy boulontleding van 5/51 in 13 boulbeurte in Pakistan se eerste kolfbeurt op dag twee van die derde toets op die Wanderers, het Suid-Afrika gehelp om die besoekers vir slegs 185 uit te boul nadat hulle die oggend op 17/2 voortgekolf het. Pakistan se beurt het met ’n agterstand van 77 op Suid-Afrika se eerstebeurttelling van 262 geëindig.

Die Proteas se tweede kolfbeurt was nie sonder sy uitdagings nie en vier vinnige paaltjies vir slegs 45 lopies sou die Pakistani’s hoop gegee het. Hashim Amla en Temba Bavuma het gekonsolideer en die Proteas se telling tot 93 gevoer voordat Bavuma (23, 42 balle) sy paaltjie verloor het.

Amla (42*, 90 b; 8x4), wat die gom is wat Suid-Afrika se kolflys in dié toets aanmekaar hou, en Quinton de Kock (34*, 34 b; 6x4) het voortgekolf en sal die beurt Sondag op 135/5 hervat. Die Proteas het reeds ’n voorsprong van 212 lopies.

Die held van Saterdag se spel, was Olivier. Sy derde oes van vyf paaltjies in die reeks maak van hom die voorste paaltjievraat met 21 slagoffers in vyf kolfbeurte. Pakistan moet boonop weer kolf.

Kagiso Rabada, op een na die voorste paaltjievraat, het 14 stokke platgetrek.

Olivier het ’n frustrerende dag vir die Suid-Afrikaanse boulers omgeswaai.

Eers het hy ná ’n uur se spel waarin die Proteas ses kanse in die veld verbrou het, wat vier verbroude vangkanse insluit, twee keer in een beurt toegeslaan om van Mohammad Abbas en Asad Shafiq ontslae te raak.

Ná die middagete het Pakistan vir ’n wyle weer die botoon gevoer met ’n blitsige vennootskap van 78 van 61 aflewerings tussen die indrukwekkende Babar Azam (49, 55 balle; 10x4) en die kaptein Sarfraz Ahmed (50, 40 b; 8x4). Ahmed en Azam het dit laat lyk of Suid-Afrika sy verbroude kanse (daar was nog een in die tweede sessie) sou berou.

Dié duo het Pakistan se telling tot 169 gevoer. Toe saai Olivier weer amok.

Eers het Kagiso Rabada (2/41) van Ahmed ontslae geraak nadat laasgenoemde ’n roekelose hou gespeel het. Kort daarna het Olivier, wat ongelooflik aggressief en vinnig geboul het, vir Azam uitgekry en met die daaropvolgende aflewering vir Faheem Ashraf (0) terug kleedkamer toe gestuur.

Daarna het die Pakistanse stert vinnig verkrummel. Van die houe waarmee hul kolwers hul paaltjies verloor het, was pateties om die minste daarvan te sê.

Daar is met tye geen durf gewys nie, terwyl Azam en Ahmed weer heeltemal te voortvarend was.

Olivier verdien egter ’n wavrag krediet. Wie sou voor die reeks kon raai dat dit juis hy sou wees wat in ’n boulaanval saam met Vernon Philander, Dale Steyn en Rabada die meeste paaltjies sou plattrek. Hy verleen ’n bykomende aggressiewe hardnekkigheid, ’n vrees-faktor, aan Suid-Afrika se reeds briljante boulaanval. Om te dink Lungi Ngidi moet ook nog terugkeer . . .

Die Proteas se kolfbeurt het nie goed begin nie en Dean Elgar (5), Theunis de Bruyn (7) en Zubayr Hamza (0) is almal vir minder as tien lopies uit.

Pakistan se kolflys is só oninspirerend dat dit moeilik is om te sien hoe hulle dié toets kan wen as Suid-Afrika ’n teiken van enigiets naby 250 stel.

Die blad raak ook opsigtelik moeiliker, met oneweredige wip. Dit was juis ’n bal wat laag gebly het, wat Hamza se ondergang bewerkstellig het.

Benewens die Proteas se verbroude kanse in die veld, was daar nog konsternasie Saterdag op die Wanderers.

Die Pakistanse glipkordon het in ’n stadium almal hul pette afgehaal en verwoed in die lug begin klap.

’n Mens het vir ’n oomblik gedink dit is weer, soos in 2017 teen Sri Lanka, bye wat die veld ingeval het.

Maar helaas – dit was ’n spul muggies. Verskeie boulers het aan hul boulaksie onttrek net voordat hulle die bal afgelewer het omdat muggies in hul oë gevlieg het.

Hasan Ali was in ’n stadium só moedeloos dat hy selfs met sy sonbril op geboul het.

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  Wanderers  |  Proteas  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.