Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Duanne Olivier beklink reeks vir Proteas

Die naam Duanne Olivier sal vir lank nog by die Pakistanse krieketspan spook.

Duanne Olivier vier ’n paaltjie op die vierde dag van die derde kriekettoets teen Pakistan Maandag op die Wanderers. Foto: AP

Dié Protea-snelbouler (3/74 in 15 boulbeurte) het die besoekers se strot Maandagoggend op dag vier van die derde toets in die Wanderers uitgeruk met twee paaltjies met agtereenvolgende aflewerings.

Eers het hy deurgebreek en die dreigende vennootskap van 58 tussen Asad Shafiq (65) en Babar Azam (21) beëindig deur met ’n goeie kort aflewering van Azam ontslae te raak.

Net daarna het hy die kaptein, Sarfraz Ahmed, vir ’n nulletjie skoongeboul. Toe was dit neusie verby vir Pakistan.

Paaltjies deur Kagiso Rabada (3/75 in 16) en Vernon Philander (1/41 in 14 bbe.) het ook daartoe bygedra dat Pakistan van sy oornagtelling van 153/3 tot 273 almal uit verkrummel het, al het die nr. 7-kolwer, Shadab Khan (47*), die Proteas vir ’n wyle saam met die stert frustreer.

Suid-Afrika het die derde toets dus met 107 lopies gewen en die reeks met 3-0, wat dié span na die tweede plek op die wêreldranglys sal laat opskuif.

Dodelike Duanne

Olivier se ongelooflike 24 paaltjies in dié reeks is die naasmeeste nóg deur ’n Suid-Afrikaner in ’n reeks van drie toetse.

Charlie Llewellyn, ’n draaibalbouler, het in Oktober en November van 1902 altesaam 25 paaltjies in ’n reeks van drie toetse teen Australië platgetrek.

Die grootsheid van Olivier se uitstekende vertoning in dié reeks, durf nie onderskat word nie.

Voor dié reeks het Olivier se twee meer geroemde snelmaats – Dale Steyn en Philander – die gesamentlike tweede plek op dié lys beklee.

In die 2010/’11-seisoen het Steyn 21 paaltjies in ’n reeks van drie toetse teen Indië in Suid-Afrika platgetrek.

Philander het dieselfde aantal slagoffers in ’n reeks teen Nieu-Seeland in Nieu-Seeland in 2012 geëis.

Die punt kan weliswaar gemaak word dat Steyn soveel paaltjies platgetrek het teen ’n baie sterker kolflys as die huidige Pakistanse kolflys. Sachin Tendulkar, Rahul Dravid, Virender Sehwag, VVS Laxman en Gautam Gambhir is gewis nie ’n Mickey Muis-kolflys nie.

As hy gevra word om sy saak te stel, sal Vernon Philander aanvoer om soveel paaltjies oorsee plat te trek, is ’n moeilike taak.

Dít is alles waar, maar Olivier het sy prestasie as die groentjie in ’n boulaanval bestaande uit drie van die wêreld se beste snelboulers behaal.

Hy is boonop gevra om as aggressor op te tree, dus om met ongelooflike vaart te boul en balle met reëlmaat kort te plant. Dít verg ongelooflike fisieke inspanning.

Duanne Olivier nadat hy Pakistan se kaptein, Sarfraz Ahmed (naasregs) skoongeboul het. Foto: AP Photo

Olivier het vir Ottis Gibson, die Protea-breier, ’n lekker tameletjie gegee voordat Sri Lanka volgende maand hier aanland. Lungi Ngidi behoort fiks te wees vir dié reeks en met die toetse wat in Durban en Port Elizabeth beslis word, sal die draaier Keshav Maharaj boonop weer in berekening kom.

Maar om Olivier ná dié reeks weg te laat, sal aan sonde grens. Veral teen nog ’n span van die subkontinent met ’n brose kolflys.

Olivier was ongetwyfeld die hoofkarakter in dié reeks. Maar ander belangrike rolspelers se bydraes kan nie misken word nie.

Dale Steyn het in die eerste toets uiteindelik verby Shaun Pollock (421) se rekord van toetspaaltjies vir Suid-Afrika geskuif. Op die Wanderers het hy ook geklim op die wêreldlys vir voorste paaltjievrate. Hy bevind hom nou in gesamentlike agtste plek op dié lys, saam met Rangana Herath van Sri Lanka en Staurt Broad van Engeland wat ook albei 433 toetspaaltjies het. Steyn het Richard Hadlee van Nieu-Seeland (431) in dié toets verbygesteek.

Onbesonge kolfhelde

Suid-Afrika plaas die onus in tuisreekse deesdae op sy snelboulers, so dit is te verstane dat die kolwers hul werk soms buite die kollig verrig.

Quinton de Kock / Foto: Gallo Images

Die Protea-kolflys was nietemin skitterend in dié reeks.

Die ganse topsewe, buiten Zubayr Hamza wat slegs in die laaste toets gespeel het en Theunis de Bruyn wat in dié toets vir 49 uit is, het die vyftigkerf minstens een keer verbygesteek.

De Bruyn was egter die mees teleurstellende kolwer en sal sy sokkies moet optrek as hy weer ’n kans kry.

Temba Bavuma, Aiden Markram en Hashim Amla was puik met twee vyftigtalle elk. Faf du Plessis het ’n skitterende honderdtal in Kaapstad geslaan.

Quinton de Kock was die Proteas se voorste lopiemaker met 251 lopies teen ’n gemiddeld van 62.75. Dít sluit ’n uitstekende honderdtal in Johannesburg en ’n vyftigtal in.

Die kolwers moes boonop op uitdagende kolfblaaie kolf en het teen ’n vaardige boulaanval te staan gekom. Dit is verblydend om te sien hoe goed die kolflys mekaar aanvul.

Daar is spelers soos Dean Elgar en Amla wat laer kan trek, Bavuma wat die span uit ’n krisis kan help, Du Plessis wat altyd kalm is, Markram wat vinnig lopies aanteken met aanskoulike houespel en De Kock wat die finale spyker in die doodskis slaan met vrye kolfwerk.

Die teenstanders was nie te watwonders nie, maar die Proteas moes steeds die taak op die veld verrig. Dít het hulle met onderskeiding gedoen, sonder om vir ’n oomblik te lyk of hulle nie in beheer is nie.

Telkaart.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Wanderers  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.