Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Duanne vra vir begrip ná Kolpak-skok
Duanne Olivier stuur een van sy kartetse in die tweede toets teen Sri Lanka in Port Elizabeth af. Foto: AP

Sy besluit gaan oor meer as net geld.

Só skryf Duanne Olivier in ’n Instagram-plasing nadat hy ’n Kolpak-kontrak met die Engelse graafskapspan Yorkshire onderteken het.

Sy nuwe Kolpak-kontrak, wat volgens The Guardian bykans R2,7 miljoen per seisoen werd is, verhoed hom om vir die volgende drie jaar vir die Proteas te speel.

Olivier het Dinsdag op Instagram gesê dit was “moontlik die moeilikste besluit wat ek nog moes neem”.

“My besluit mag dalk moeilik wees vir sommige mense om te begryp, maar as ’n beroepskrieketspeler, is jou loopbaan kort en vir my om die beste van my geleenthede te maak, moes ek ál my opsies opweeg,” skryf Olivier.

As ’n beroepskrieketspeler, is jou loopbaan kort en vir my om die beste van my geleenthede te maak, moes ek ál my opsies opweeg.
Duanne Olivier

In die onlangse reeks teen Pakistan is hy as die Speler van die Reeks aangewys, maar hy wys daarop dat hy voor dié reeks weinig kans in die toetsspan gekry het.

“Voor die Pakistan-reeks, het ek nie toetskrieket gespeel sedert die Bangladesj-toer in 2017 nie, wat my genoop het om ander loopbaankeuses te oorweeg,” sê hy.

“Ek is nie iemand wat my ophou met die besluite van die verlede en ’n wrok koester nie, want ek is dankbaar vir die geleenthede wat ek gekry het.”

Hy sê hy is bewus dat “KSA, die media en die meeste mense” nie sy besluit verstaan of daarmee saamstem nie. Hy vra egter dat sy besluit gerespekteer word.

“Die besluit is op meer as net geld gegrond. Vir my loopbaan en alles wat ek wil bereik, glo ek werklik hierdie is die beste besluit vir my.

Ottis Gibson, die Proteas se afrigter.

“Ek is trots daarop om vir Suid-Afrika te kon speel en net so trots daarop om ’n kontrak met ’n groot graafskapspan soos Yorkshire te onderteken.”

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, asook Ottis Gibson, die Protea-breier, het Dinsdag hul teleurstelling met Olivier se besluit te kenne gegee.

Paul Harris, die voormalige Protea-draaibalbouler, het egter simpatie met Olivier.

“Daar is baie teorieë en menings oor sy besluit en sommige mense is kwaad daaroor,” sê Harris.

“Tog moet jy sy denkwyse verstaan. Finansieel maak dit sin, wat die langdurigheid van sy loopbaan betref, maak dit sin.

“Ek dink wel die tydsberekening is nie wonderlik nie.

“Maar dink aan die sakewêreld. Sal jy nee sê vir ’n skuif wat jou met minder druk en meer geld laat? Nee, jy sal nie.

Ek stem nie saam met die tydsberekening nie, maar ek verstaan sy besluit.
Paul Harris

“Ek stem nie saam met die tydsberekening nie, maar ek verstaan sy besluit,” sê Harris, wat self ’n Kolpak-speler vir Warwickshire was.

Die voormalige Engelse kolwer Kevin Pietersen het ’n soortgelyke standpunt as Harris ingeneem.

“Elke sportman is nou ’n besigheid,” het Pietersen getwiet.

Kevin Pietersen

“Wys vir my iemand in die sakewêreld wat nie sal skuif vir meer geld, minder werk en werksekerheid nie. Dit is nou die wêreld van sport. Jy mag dalk nie daarvan hou nie, maar dit is hoe dit is.”

Olivier se besluit is nietemin kommerwekkend vir KSA, veral aangesien dié beheerliggaam hom ’n nasionale kontrak van twee jaar aangebied het. Dat Olivier dié kontrak van die hand kon wys, dui daarop dat KSA finansieel mank is wanneer hy met graafskapspanne moet meeding.

Daar is boonop ’n groot kans dat Engelse spanne ná Brexit nie meer Kolpak-kontrakte sal kan toeken nie, wat tot ’n uitvloei van meer Suid-Afrikaanse spelers in die afsienbare toekoms kan lei.

Olivier is een van ’n magdom Suid-Afrikaanse spelers met ’n Kolpak-kontrak. Ander sluit in Heino Kuhn (Kent), Richard Levi (Northants), Colin Ackermann (Leicestershire), Stiaan van Zyl (Sussex), Rilee Rossouw (Hampshire), Dane Vilas (Lancashire), David Wiese (Sussex), Simon Harmer (Essex), Kyle Abbott (Hampshire), Morné Morkel (Surrey) en Colin Ingram (Glamorgan).

Olivier se verlies vir die Proteas word so ietwat ligter gemaak omdat Lungi Ngidi weer fiks is. Tog is dit moeilik om te glo dat Dale Steyn en Vernon Philander nog vir drie jaar lank toetskrieket gaan speel.

Wanneer dié twee uittree, kan Olivier baie gemis word.

Olivier se Instagram-boodskap: 

Meer oor:  Kevin Pietersen  |  Duanne Olivier  |  Paul Harris  |  Suid-Afrika  |  Yorkshire  |  Krieket  |  Ksa  |  Protea  |  Snelbouler  |  Kolpak-Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.