Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Duminy groet kitskrieket op Nuweland

JP Duminy is oorgehaal om die Proteas te help tot ’n oorwinning in sy laaste internasionale eendagwedstryd op Nuweland in Kaapstad.

Dié veelsydige kolwer het Vrydag bevestig dat hy sy eendagstewels ná vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland sal ophang.

JP Duminy praat Vrydag by Nuweland in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die Proteas pak Sri Lanka Saterdag op Nuweland in die vyfde en laaste eendagwedstryd. Die Proteas is reeds met 4-0 voor in die reeks.

Duminy het gesê die Proteas het hulself die doel gestel om elke wedstryd te wen wat hulle in die WB-toernooi speel.

“Die formaat (waar al die spanne in die groepronde een keer teen mekaar speel) is van só ’n aard dat jy al jou wedstryde wil wen. Ons is dus klaar in só ’n gemoedstoestand en is oorgehaal om die oorhand oor Sri Lanka te hou,” sê Duminy.

Duminy (34), wat reeds in 2017 uit toetskrieket uitgetree het, het ook bevestig dat hy steeds beskikbaar sal wees om in T20-krieket vir die Proteas uit te draf.

Duminy het in 2004 as ’n 20-jarige sy buiging vir die Proteas in Colombo, Sri Lanka, gemaak en het baie hoogtepunte in sy loopbaan van meer as 14 jaar gehad.

“Ek dink nie my statistieke gaan enigiemand bang maak nie, maar ek is baie trots op die bydrae wat ek tot die span gemaak het.”

Die vyfde wedstryd is nog ’n kans vir die Proteas se jong kolwers om ’n finale kleim af te steek om einde volgende maand die Proteas se 15 man-groep vir die WB-toernooi te haal.

Ek dink nie my statistieke gaan enigiemand bang maak nie, maar ek is baie trots op die bydrae wat ek tot die span gemaak het.

Aiden Markram en Reeza Hendricks is beslis twee spelers wat die keurders sal wil beïndruk.

Veral Markram benodig ’n groot telling.

Dié jong kolwer het ’n puik rekord in eersterangse eendagkrieket waar hy reeds ses honderdtalle in net 47 wedstryde gemoker het.

Hy soek nog sy eerste honderdtal vir die Proteas in dié weergawe van die spel. Hy het nog net ’n enkele vyftigtal aangeteken. Hy het nou 11 keer in 17 wedstryde sy paaltjies verloor met sy telling tussen 20 en 50.

Markram ding waarskynlik mee met Hashim Amla om ’n plek in die groep. Die bebaarde kolwer sukkel die laaste tyd en kenners meen hy het sy slag verloor.

Amla het in sy laaste 17 wedstryde vier vyftigtalle en ’n honderdtal geslaan.

Die jong blitsbouler Anrich Nortjé sal ook graag ’n regmerkie langs sy naam wil kry. Hy het goed geboul in sy eerste skof in die vierde wedstryd in Port Elizabeth, maar het lelik deurgeloop teen die einde van die wedstryd.

Begintyd: 13:00 (SS 2 en SABC 3).

Meer oor:  Sri Lanka  |  Eendagreeks  |  Proteas  |  Jp Duminy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.