Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
MSL: Giants se Aussie kolf hul na sege

’n Skitterende kolfbeurt deur hul Australiese huursoldaat Ben Dunk en ’n paar verbroude vangkanse het die Nelson Mandela Bay Giants Dinsdag in Port Elizabeth gehelp om ’n goeie oorwinning oor die Tshwane Spartans te behaal.

Die Giants was met ses paaltjies in hul Mzansi-superligawedstryd baas nadat hulle ’n telling van 188/5 moes jaag vir hul sege. Hul telling van 192/4 in 19.4 boulbeurte is die hoogste telling wat tot nog toe in ’n MSL-wedstryd op St. Georgepark aangeteken is.

Ben Dunk kolf die Nelson Mandela Bay Giants Dinsdagaand na ’n oorwinning oor die Tshwane Spartans in ’n krieketwedstryd in die Mzansi-superliga in Port Elizabeth. Foto: Gallo Images

Dunk het die meeste van sy span se lopies met ’n onoorwonne 99 gekry.

Hy het die geluk aan sy kant gehad en is vier keer misgevang.Dis sy hoogste telling tot nog toe in ’n T20-wedstryd.

Hy het vier sesse en tien viere gemoker.

Die Aussie is teen die einde goed bygestaan deur die beesboer van Stutterheim Marco Marais.

Marais was nie uit nie op 38 en het saam met Dunk vir ’n onoorwonne vennootskap van 86 gesorg.

Die Tshwane Spartans se totaal van 188/5 was aanvanklik ook ’n nuwe rekord vir die hoogste telling in ’n MSL-wedstryd op St. Georgepark.

Dit het die vorige rekord, wat die Giants vroeër in die reeks teen die Cape Town Blitz aangeteken het, met een lopie oortref.

Twee goeie vennootskappe het die Spartans gehelp om hul totaal gemaklik te bereik.

Tony de Zorzi en Wiaan Mulder het 57 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken voor Imran Tahir toegeslaan het.

Tahir het De Zorzi met ’n aflewering geflous en Dunk het De Zorzi met sy telling op 30 gestonk.

Mulder en AB de Villiers het toe voortgegaan om die tweede paaltjie vir 67 lopies te verkoop.

Mulder het 52 (1x6, 6x4) gemoker voordat hy deur Heino Kuhn van Beuran Hendricks se boulwerk uitgevang is.

AB de Villiers in aksie in sy beurt van 63 lopies vir die Spartans.Foto: Gallo Images

De Villiers het toe ’n bietjie skouers oopgemaak.

In die 18de boulbeurt het hy 22 lopies van Junior Dala af gemoker, maar die bouler het laaste gelag toe Hendricks hom van die laaste bal van die boulbeurt uitgevang het.

De Villiers het sy 63 lopies, wat twee sesse en ses viere ingesluit het, van 38 balle af aangeteken.

Die tuisspan se kolfbeurt het floutjies begin met ’n paar paaltjies wat vinnig geval het.

Matthew Breetzke (6), JJ Smuts (7) en Heino Kuhn (0) was gou terug in die kleedkamer en met die telling op 3/28 was die Giants in die knyp.

Dunk en Ryan ten Doeschate het vasgeskop met ’n hardnekkige vennootskap van 78 vir die vierde paaltjie voordat Ten Doeschate vir 33 uit is.

* Woensdagaand pak een van die pasaangeërs in die reeks, die Paarl Rocks, die Durban Heat op Bolandpark in die Paarl. Dié wedstryd begin om 17:30.

TELKAART

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.