Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dwaine kyk Thor-fliek om kalm te bly

Hy het die senutergende paar ure voor die aankondiging van die Wêreldbeker-groep deurgebring deur na ’n Thor-fliek te kyk, sê Dwaine Pretorius.

Dwaine Pretorius erken die skare se applous ná sy skitterbeurt in die derde T20-stryd tussen Suid-Afrika en Sri Lanka op die Wanderers verlede maand. Sy 77 lopies van slegs 42 balle het moontlik ’n deurslaggewende rol in sy insluiting in die Proteas se Wêreldbeker-groep gespeel. Foto: Gallo Images

Dié veelsydige speler is een van die 15 uitverkorenes wat Suid-Afrika in Engeland en Wallis sal verteenwoordig.

“Dit was ’n lang reis om hier by die Wêreldbeker-groep uit te kom. Dit het Donderdag net gevoel of die tyd nie wou aanbreek dat die groep bekend gemaak word nie,” het ’n verligte Pretorius gesê.

Dié 30-jarige boorling van Randfontein erken hy het geen idee wat hom in die uitsoek-vyftiental gekry het nie.

“Dit kan my tellings oor die afgelope ruk wees, of dalk my werketiek en my ingesteldheid op die veld. Ek is regtig nie seker nie,” sê hy.

“Ek weet ek het baie hard gewerk aan die geestelike aspek van my spel. Ek het net op myself gefokus en nie om my gekyk na my sterkste mededingers om ’n plek as veelsydige speler nie,” vertel hy.

Een van daardie spelers is ook een van sy groot vriende, Chris Morris, wat uiteindelik die geleentheid misgeloop het.

“Ek voel regtig jammer vir Morrie. Hy het my onder sy vlerk geneem toe ek hier by die Lions begin speel het. Ons was vir twee jaar lank kamermaats en het ’n wonderlike vriendskap opgebou. As hy nie later na die Titans toe is nie, het ek dalk nooit my kans hier by die Lions gekry met die opening wat hy gelaat het nie.”

Dwaine Pretorius en sy groot vriend Chris Morris vier ’n paar jaar terug ’n paaltjie in ’n eendagstryd vir die Proteas. Pretorius sê dis ’n groot jammerte dat Morris nie ook op pad is WB-toernooi toe nie. Foto: Gallo Images

Die lenige Pretorius gee toe die beurt wat hy as mokerman op nommer drie in die T20-kragmeting teen Sri Lanka op die Wanderers gespeel het, sou die keurders se aandag op hom gevestig het.

Dink hy die mokerman-rol kan dalk syne wees in die Wêreldbeker?

Om nou self deel te wees van ’n Wêreldbeker gaan iets besonders wees.

“Ek glo nie so nie. Ons top-ses is uitstaande en dit sal hul rol wees om die beurt skop te gee. Ek sien die 15 beurte wat ek daardie dag gekolf het as iets wat dalk nodig gaan wees in die Wêreldbeker,” sê hy.

“Ek wil graag iets bewys in hierdie Wêreldbeker en van my herinneringe aan die toernooi is hoe Shaun Pollock gehuil het met die Duckworth-Lewis-drama teen Sri Lanka in Durban, die trane wat gevloei het by Morné Morkel en kie in die laaste toernooi teen Nieu-Seeland en die fiasko met die uithardloop in 1999 waar Lance Klusener en Allan Donald betrokke was.

“Ek was toe tien gewees en onthou dit nog so goed. Om nou self deel te wees van ’n Wêreldbeker gaan iets besonders wees,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.