Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dwaine mik vir dié 3 WB-toernooie

Dwaine Pretorius gaan sy selfopgelegde “staat-van-inperking-taak” die volgende 21 dae met ’n groot glimlag aanpak.

Hy het immers vandeesweek gehoor ’n lewenslange droom van hom is bewaarheid.

Dwaine Pretorius sê sy gunstelingposisie om in te kolf, is nr. 5, maar in internasionale eendag- en T20-krieket, wil hy graag die nr. 6-posisie sy eie maak. Foto: Getty Images

Wanneer hy dus die buitekant van sy huis verf terwyl die land in ’n staat van inperking is om die Covid-19-pandemie te probeer inperk, kan Pretorius hom daaraan herinner dat hy nou ook ’n nasionaal gekontrakteerde Suid-Afrikaanse krieketspeler is.

“Ek werk inderwaarheid al die laaste 30 jaar daarvoor om ’n nasionale kontrak te kry, so ek is ongelooflik dankbaar en ek hoop om Krieket Suid-Afrika met goeie vertonings op die veld te vergoed vir die vertroue wat hulle in my geplaas het,” het Pretorius Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Al is hy reeds 30 jaar oud, het dié veelsydige speler nog groot ambisies in die Protea-span.

Ek het my hele loopbaan al staatgemaak op my bestendigheid, maar ek kan natuurlik baie verbeter en ek is nie bang vir harde werk nie.

“Ek kyk mooi na my lyf en ek is nie bang vir harde werk nie, so my mikpunte is om hopelik in die volgende twee T20-Wêreldbeker-toernooie (T20-WB) én in die Wêreldbeker (WB)-toernooi oor 50 boulbeurte te speel.”

Vanjaar se T20-WB is geskeduleer om in Oktober en November in Australië plaas te vind. Volgende jaar is daar nóg ’n T20-WB, dié keer in Indië.

Die volgende WB-toernooi oor 50 boulbeurte vind in 2023, ook in Indië plaas.

Dwaine Pretorius glo sy akkuraatheid is sy grootste wapen met die bal in die hand. Foto: Gallo Images

Pretorius het homself die laaste paar jaar as ’n betroubare veelsydige speler onderskei. Hy is ’n goeie kolwer en ’n dodelik akkurate naatbouler, wat die meerderheid van sy internasionale witbalkolfbeurte (11 uit 16) in die nr. 7-posisie gekolf het.

Hy glo nie dít is sy beste kolfposisie nie.

“Ek wil graag die nr. 6-rol in eendag- en T20-krieket vertolk. Nr. 7 is te laag in die kolflys. Ek glo my beste posisie is nr. 5, maar dit gaan moeilik wees om daardie plek in internasionale krieket te beklee, want daar is soveel mededinging.

“Op nr. 6 is waar ek voel ek kan ’n groot invloed op ’n wedstryd hê en ’n wedstryd vir die span swaai.

“Dan wil ek natuurlik ook ’n bydrae met die bal maak, waar my groot sterkpunt my akkuraatheid is. Ek glo ook ek kan bestendig goeie vertonings lewer.

“Ek het my hele loopbaan al staatgemaak op my bestendigheid, maar ek kan natuurlik baie verbeter en ek is nie bang vir harde werk nie.”

Pretorius hoop hy sal kan draf tydens die staat van inperking, maar het ook basiese gimnasiumtoerusting gaan koop.

“Daar is deesdae ook soveel apps wat vir jou liggaamsoefeninge wys. Maar die wyse waarop ek die meeste van my liggaamlike oefening gaan inkry, is deur die buitekant van my huis te verf.

“Dit is wat ek die volgende drie weke gaan doen. Ek het nou net klaar verf gekoop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.