Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Een toets in reeks om As kos Aussie R44 m.
Die Australiër Mitchell Marsh het toetskrieket vir sy land teen Engeland bo ’n fortuin in die Indiese Premierliga gekies. Foto: Getty Images

Die voorreg om uiteindelik net in een toets in die reeks om die As te speel, het die veelsydige Australiese krieketspeler Mitchell Marsh ’n beraamde $3 miljoen (bykans R44 miljoen) aan verlore inkomste gekos.

Luidens ’n berig op die Australiese webwerf news.com.au was Marsh nie vanjaar beskikbaar vir die geldryke Indiese Premierliga nie, aangesien hy in die Engelse graafskapliga gaan speel het om voor te berei vir vanjaar se reeks in die As in Engeland.

Die 27-jarige Marsh is oor die hoof gesien vir die eerste vier toetse en kry nou slegs in die laaste toets, wat Donderdag op die Oval in Londen begin het, speelkans.

Australië het reeds die As behou met sy oorwinning op Old Trafford en sal nou ook poog om die reeks te wen.

Engeland kan hoogstens ’n gelykop-reekstelling van 2-2 afdwing en omdat Australië die vorige reeks om die As gewen het, bly die gesogte kruik in sy besit.

Volgens die senior Australiese krieketskrywer Robert Cradock het Marsh se vasbeslotenheid om teen Engeland te speel teen ’n groot finansiële prys gekom.

“Hy het basies sy rug gekeer op $3 miljoen,” het Cradock in ’n onderhoud met FoxSports in Australië gesê.

Marsh het in 2016 $1 miljoen verdien om vir Pune in daardie jaar se IPL te speel. Met die IPL wat sedertdien ’n nuwe multimiljard-ooreenkoms vir uitsaairegte gesluit het, reken Cradock Marsh sou vanjaar $3 miljoen by die spelersveiling voor die IPL kon verdien het.

Marsh het destyds gesê die IPL en die geld wat daarmee gepaard gaan is aanloklik, maar dat hy ’n krieketbesluit geneem het (om eerder in Engeland te gaan speel).

Steve Smith se eiesoortige kolftegniek sal nie in handleidings oor die spel gevind word nie.Foto: Getty Images

* Die voormalige Australiese paaltjiewagter Adam Gilchrist het intussen gesê Steve Smith se kragtoer met die kolf gaan dalk meebring dat handleidings herskryf moet word.

Smith se onortodokse gewoonte om na die wegkant te skuifel en die bal na die bykant te moker word nie deur puriste van die spel aanbeveel nie.

Tog het die 30-jarige Smith 671 lopies in sy eerste vyf beurte van die reeks om die As gemoker teen ’n gemiddelde van 134.2 per kolfbeurt.

“Jare gelede het Smith ’n lopiedroogte beleef, wat hom gedwing het om sy spel in heroënskou te neem. Hy het aanvanklik probeer om sy tegniek te verander, maar het later besluit om te hou by dít wat nog al die jare vir hom gewerk het,” het Gilchrist Woensdag aan verslaggewers in Bangalore in Indië gesê.

“Dit verg mannemoed om te hou by jou tegniek wanneer legendes van die spel en die handleidings vir jou sê dis verkeerd. Dalk moet die handleidings oor kolftegniek herskryf word,” het Gilchrist gesê. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Mitchell Marsh  |  Steve Smith  |  Adam Gilchrist  |  Engeland  |  Australië  |  Asse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.