Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Een tree vorentoe, maar weer een terug

Faf du Plessis het ’n gebrek aan ervaring as een van die vernaamste redes voorgehou vir sy span se swak vertonings in die huidige toetsreeks in Indië.

Die Proteas is Sondag vir 189 in hul tweede beurt uitgehaal en het die tweede toets in Pune met ’n allemintige beurt en 137 lopies verloor.

Ravindra Jadeja vier die paaltjie van Quinton de Kock in die Proteas se tweede beurt in die tweede toets in Pune. Foto: AP

Du Plessis het ná die wedstryd gesê wisselvalligheid weens ’n gebrek aan ervaring het ’n groot rol gespeel.

“Ons het dalk ’n tree vorentoe getree in die eerste toets, maar het weer een teruggegee. Dis waar wisselvalligheid ter sprake kom,” het Du Plessis gesê.

“Lopies in die eerste beurt is van kardinale belang in dié toestande. Ons het ’n goeie kolfblad gehad om op te kolf in ons eerste beurt en ons ’n telling van minstens 400 gekry het,” het Du Plessis by die nuuskonferensie gesê.

Die gebrek aan ervaring is nie die enigste rede vir die Proteas se gesukkel nie.

Suid-Afrika se fokus om ten alle koste toetsreekse by die huis te wen, het hom nou lelik gebyt.

Die Proteas het onder die kapteinskap van Graeme Smith ’n trotse rekord weg van die huis af opgebou.

In ’n era waar byna geen spanne oorsee kon wen nie, was Smith-hulle onoorwonne buite Suid-Afrika tussen die nederlae in Sri Lanka in 2006 en Indië aan die einde van 2015.

Dit het vir 13 agtereenvolgende reeks geduur.

Die Proteas se voormalige afrigter Ottis Gibson, wat in 2017 die leisels geneem het, het die klem op tuisoorwinnings geplaas.

Gibson het geglo dat as jy toestande by die huis so gunstig moontlik vir jou span maak, maar dan verleer hoe om weg van die huis af te speel, is dit maar een van die nagevolge.

Suid-Afrika het dié resep gevolg om tuisreekse teen Bangladesj, Indië, Australië, Sri Lanka en Pakistan te wen voordat die Proteas hulle teen Sri Lanka vroeër vanjaar in ’n tuisreeks vasgeloop het.

Vrae moet gevra of die gesukkel in Indië nie die uitvloeisel van dié resep is nie.

Die Proteas het in 2015 ook groot slae in Indië gekry, maar toe kon mens beslis ’n groot deel van die blaam op die toestande gelê het.

Die kolfblaaie was toe nie van toetsgehalte nie en selfs die Indiese kolwers het teen die Proteas se draaiers gesukkel.

Maar nou het daar niks geskort met die kolfblaaie in die eerste twee toetse van die huidige reeks nie.

Dit was bloot ’n geval dat Indië die beste span was in al die fasette van die spel.

Die Proteas se sukkelende toporde sal nog een kans in oorsese toestande kry wanneer die derde toets Saterdag in Ranchi begin.

* Intussen sal George Linde, die draaier van die Cape Cobras, hom by die span aansluit as plaasvervanger vir Keshav Maharaj, wat sy regterskouer beseer het op die tweede dag van die Punte-toets terwyl hy veldwerk gedoen het.

Volgens die spandokter, Ramjee Hashendra, is die skouer Sondagoggend verbind voordat hy in die opvolgbeurt gaan kolf het, maar hy het steeds las van die besering ondervind en dit sal tussen 14 en 21 dae vir hom neem om te herstel.

Meer oor:  Indië  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.