Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Elgar anker beurt nadat Proteas skrik

Daar was paniek.

In sitkamers in Johannesburg en Kaapstad en Bloemfontein en Durban, was daar ook sekerlik ’n gesamentlike sug: “Hier gaan ons al weer, verlede week was maar net ’n gelukskoot.”

Dean Elgar vier sy eerste vyftigtal as Protea-toetskaptein. Foto: Cricket West Indies

Want sien, dit het onlangs maar al te gereeld gebeur. Die Proteas bevind hulle op 37/3 en dan skielik 48/4, 52/5 en 100 almal uit. Of iets soos dit.

So ja, toe Jason Holder vir Rassie van der Dussen Vrydag in die 18de beurt skoonboul om Suid-Afrika op 37/3 te laat steier, sou daar ’n paar paniekerige mense in die Protea-kleedkamer wees. En ’n paar gefrustreerde ondersteuners in Suid-Afrika.

Dean Elgar het egter gesê aikôna. Vandag is ek die wal wat hierdie dreigende ineenstorting gaan keer.

In Kyle Verreynne en later Quinton de Kock het hy bevoegde en gewillige vennote gevind en saam het hulle die Protea-kolfbeurt herbou.

Stukkie vir stukkie, sonder fanfare. Op ’n deksels moeilike kolfblad, teen ’n Windie-aanval met sy stert in die lug.

Suid-Afrika t. Wes-Indiese Eilande

2de toets, St. Lucia, dag 1

SA (1ste beurt) 218/5

Elgar (77, 237 balle) het hou vir hou vir hou die gô uit die tuisspan se boulers geblok. Die Protea-kaptein is so ouskool soos jy kry en hy gee nie ’n duit om oor goed soos “treftempos” nie.

Hy beskik oor Job se geduld en ’n wavrag moed. Dít het die nuwe Protea-kaptein uitgestal terwyl hy sy span se beurt begin herbou het.

Hy en Verreynne, wat self ’n baie waardevolle 27 van 89 balle aangeteken het, het saam 87 lopies om die vierde paaltjie opgestapel. Toe Verreynne net voor tee uit is, was Suid-Afrika op 124/4. Nog nie heeltemal uit die modder nie, maar dit was darem nie meer net die voorkop wat uitgesteek het nie.

Op ’n boulersvriendelike blad soos dié, en met Suid-Afrika se boulaanval en die Windies se brose kolflys, sou ’n mens dink enigiets rondom 250 is ’n redelike telling.

De Kock (59*, 103 b) het egter ingekom en nóg verder gered – soveel so, dat Suid-Afrika nou dalk selfs van 300 kan droom. Ás De Kock en Wiaan Mulder (2*, 13 b) Saterdag kan voortbou.

De Kock en Elgar het 79 lopies gedeel, totdat Elgar in die uur voor uitskeityd deur Kyle Mayers uitgeboul is. Maar sy werk was gedoen.

Die twee vennootskappe sal Protea-ondersteuners en die span self tevrede maak. In die onlangse verlede was Suid-Afrikaanse kolfineenstortings so algemeen soos beurtkrag, maar Vrydag is dit skitterend die hoof gebied.

En dít opsigself is reeds ’n teken van vooruitgang.

Telkaart.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Windies  |  Dean Elgar  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.