Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Ons kan nie teruggaan na waar ons was’
Dean Elgar, die Protea-kaptein. Foto: Gallo Images

Die begin van ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse krieket op en weg van die speelveld.

Dít is waarop Dean Elgar, die Protea-toetskaptein, hoop op die vooraand van die tweede en laaste toets teen die Wes-Indiese Eilande, wat Vrydag in St. Lucia begin.

As Suid-Afrika dié wedstryd wen, of minstens nie verloor nie, sal dit die span se eerste oorsese reekssege sedert sy triomf in Nieu-Seeland in 2017 wees. Sedertdien het die span vier wegreekse verloor.

’n Reekssege sal die begin van die Dean Elgar-era ’n adrenalien-inspuiting gee. Dít in ’n week waartydens Krieket Suid-Afrika self ook nuwe energie gekry het nadat ’n nuwe raad, met ’n groot meerderheid onafhanklike raadslede, aangestel is.

Vir Elgar se voorganger, Faf du Plessis, was dit belangrik om sy vinger te hou op die pols van verwikkelinge aan die administratiewe sy en in die raadsale. Met Elgar is dit dieselfde.

“As jy Protea-toetskaptein word, sal jy altyd betrokke wees by daardie tipe gesprekke op ’n raadsaalvlak, of jy nou daarvan hou of nie,” sê Elgar.

“Ek hoop daar is ’n nuwe begin, ’n nuwe era. Ons kan nie terugkeer na wat ons gehad het nie. Dit het nie die spel in ’n positiewe lig geplaas nie.

“Ek is nie ’n raadsaaldeskundige of ’n politikus nie, ek is ’n krieketspeler en die Protea-kaptein. Dit is al waaroor ek omgee.

“Ek sal graag die nuwe struktuur wil vertrou. Ek wil sien dat krieket weer eerste geplaas word. Dit is in die verlede op die agtergrond geskuif.”

Die Proteas het in die eerste toets sommer self gesorg dat die kollig op die spel val en nie op die raadsale nie.

Elgar bestempel hul vertoning in die sege van ’n beurt en 63 lopies as “klinies” en “meedoënloos”.

“Verskeie senior spelers het na vore getree en dít was my boodskap sedert ons in Irene saamgetrek het vir ons eerste kamp.

“Die ouens weet presies waar hulle met my staan. Hulle weet as ons vorentoe wil beweeg as ’n span, veral die senior groep, moet ons reuse-vertonings insit, soos in die eerste toets. Ons soek honderdtalle en vyftalle en dít is wat ons gesien het.”

Die verwagting is dat dieselfde span in die tweede toets sal speel. Daar is steeds ’n vraagteken oor die beskikbaarheid van Temba Bavuma, wat met ’n heupbesering sukkel. As hy fiks is, sal hy speel, maar die kans is goed dat Kyle Verreynne nog ’n kans sal kry.

Elgar sê die blad lyk soortgelyk aan die een waarop die eerste toets gespeel is. Dit het die laaste paar dae gereën, so hy verwag dat die blad wel ietwat sagter kan wees.

“Ek het nog nie besluit wat ek sal doen as ons die loot wen nie, maar ek verkies gewoonlik om eerste te kolf.”

Waarskynlike Protea-elftal: Dean Elgar (k), Aiden Markram, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Quinton de Kock, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi.

Begintyd: Vrydag 16:00 (SS 201, 212).

Meer oor:  Dean Elgar  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.