Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Elgar soek minder chaos, meer glimlagte

As Dean Elgar aan die vorige keer dink wat hy die Proteas in ’n toets aangevoer het, maal daar een woord deur sy kop: Chaos, chaos en nogmaals chaos.

Elgar neem die leisels by die geskorste Faf du Plessis vir die derde en laaste toets teen Pakistan, wat Vrydag op die Wanderers in Johannesburg begin.

Dean Elgar het die Proteas in 2017 in een toets op Lord’s aangevoer. Hier is hy saam met Joe Root, Engeland se kaptein. Foto: Getty Images

Die laaste keer wat hy vir Du Plessis ingestaan het, het sake nie te goed verloop nie. Die Proteas het daardie toets, die eerste in ’n reeks van vier teen Engeland in Engeland in 2017, met 211 lopies op Lord’s verloor.

“Die hele ervaring in Engeland was baie meer chaoties,” het Elgar Donderdag by die Wanderers gesê.

“Dit was aan die begin van ’n (weg)reeks, teen Engeland, wat ’n baie taai toetsspan is. Dit was woes. Dit was ’n gejaag en ek moes oral rondhardloop by Lord’s.

“Daar was ’n mediakonferensie met baie meer joernaliste as wat daar hier is, dit was ’n intimiderende faktor.

Dié keer is ek minder gespanne, weens die stand van die reeks.
Dean Elgar

“Ek is nou ook ouer en ek glo ek het baie geleer in die tyd wat verloop het, ook oor hoe om met die media en joernaliste te werk,” sê Elgar (31).

Dié keer is die reeks reeds gewonne, nadat Suid-Afrika die eerste twee toetse in Centurion en Kaapstad gewen het.

“Dié keer is ek minder gespanne, weens die stand van die reeks,” sê Elgar.

“Hierdie keer het ons die reeks in die sakkie, maar ons het steeds ’n groot doelwit in dié toets. Ons wil die laaste spyker in die doodskis slaan en ek dink ons verdien om dít te doen, want ons het regdeur die reeks goeie krieket gespeel.”

Wat is die lesse wat hy uit sy ervaring op Lord’s geleer het?

“Moenie verloor nie,” skerts hy.

“Ek onthou net hoe chaoties dit was. Op dag een het dit nutteloos gevoel om op te warm, om ons sokkerwedstryd voor die tyd te speel.

“Daarna moes ek terughardloop en aantrek vir die loot. Nou kyk ek terug en besef daar was soveel meer tyd om daardie ervaring te geniet.

Ottis Gibson, Protea-afrigter, en Dean Elgar, die Proteas se instaan-kaptein, hou die manskappe dop by Donderdag se oefening in Johannesburg. Foto: Gallo Images

“Dié keer gaan ek dit inneem. Ek weet nie wanneer ek weer die kans gaan kry om die span te lei nie, so ek gaan dit baie meer geniet as die eerste keer.”

Daar is egter geen sprake van oorgerustheid nie. Die Proteas wil skoonskip maak in dié reeks.

Hulle het in 2018 die kans gehad om Indië met 3-0 te klop, maar ’n halfgebakte vertoning in die laaste toets, ook op die Wanderers, het die reeks met 2-1 in Suid-Afrika se guns laat eindig.

“Ek het vir die span gesê hoewel ons die reeks reeds gewen het, moet ons nie laat slaplê nie. Ons was voorheen in dié posisie, verlede jaar teen Indië. Toe het ons die laaste toets verloor en dit het nogal seergemaak.

“Ons het geleer daaruit. My boodskap aan die span was baie reguit – daar is nie plek vir oorgerustheid nie.

Maar ek weet as ons by ons wedstrydplan hou, sal ons hulle wegblaas.
Dean Elgar

“Dit is ’n groot geleentheid vir ons, want ons wil ook op die ranglys vorder.”

Die Proteas kan die nr. 2-plek op die wêreldranglys bereik indien hulle skoonskip maak in die toets.

“Ons wil met 3-0 wen hier. Ons wil die somer met 5-0 wen, as jy die twee toetse teen Sri Lanka bytel.”

Hy weet egter Pakistan gaan nie net boedel oorgee nie.

“Pakistan het ook nog baie om voor te speel. Hulle het tot dusver goeie krieket gespeel. Ek dink hulle gaan met ’n groot aanslag kom, veral op die eerste dag.

“Maar ek weet as ons by ons wedstrydplan hou, sal ons hulle wegblaas.”

Meer oor:  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Wanderers  |  Dean Elgar  |  Proteas  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.