Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Elgar: Swak telling nie blad se skuld

Maak geen fout nie – dit was miskien Suid-Afrika se dag, maar die eerstebeurttelling van 220 lopies is nie eens amper goed genoeg nie.

Dean Elgar glo die Proteas moes Dinsdag in Karatsji ’n veel groter eerstebeurttelling teen Pakistan opgestapel het. Veral ná hul goeie begin op die eerste oggend van die eerste toets.

Dean Elgar en Faf du Plessis hardloop tussen die paaltjies. Foto: AP

“Die blad was eintlik nogal lekker om op te kolf. Ek het gevoel as ons goed teen hul naatboulers begin, sal dit ons help later as die blad stadiger raak en hul draaibalboulers begin boul,” sê Elgar, wat met ’n beurt van 58 Suid-Afrika se beste kolwer was.

“Teen middagete (op 94/2) was ons in ’n puik posisie. Maar die subkontinent het altyd ’n truuk of twee en ons het vinnig vyf of ses paaltjies verloor ná middagete. Daar het ’n paar goed gebeur (soos twee uithardloopkanse), maar jy kon sien dat jy wel kón kolf op daardie blad. Daar is nie te veel duiwels in die blad nie, al word die blad stadiger namate die bal sagter word en dan speel draai ’n groter rol.”

As jy jouself ingrawe en die gebiede uitskakel waar die boulers jou kan uitkry, kan jy lopies op hierdie blad aanteken.

Elgar sê ’n mens moet die reg verdien om die boulers aan te vat.

“Ons het dit voor middagete gedoen, maar ná middagete was ons dalk oorhaastig om te begin aanval. Ek dink ons telling van 220 is veel minder as selfs ’n middelmatige telling,” erken hy.

“As jy jouself ingrawe en die gebiede uitskakel waar die boulers jou kan uitkry, kan jy lopies op hierdie blad aanteken. Ek is nietemin bly dat Pakistan op 33/4 staan.”

Hy dink Suid-Afrika voer daarom die botoon. As Pakistan egter nie vier paaltjies voor uitskeityd verloor het nie, was dit ’n heel ander kwessie.

Keshav Maharaj bespring vir Lungi Ngidi nadat hy (Maharaj) vir Babar Azam uitgekry het. Dean Elgar en Temba Bavuma is ook verheug. Foto: AP

“Ná ons eerste beurt, sou ek nie gedink het ons gaan die dag in beheer afsluit nie. 33/4 is egter iets waarvoor ons goeie geld sou betaal,” sê Elgar.

“Dit blad gaan ook moeiliker raak. Ons het goeie draaiers in ons arsenaal, wat ons kan benut. Tog is die blad steeds goed – ons het nie goed gekolf nie en ons weet dit.”

Hy het die boulers geloof, want as dit nie vir Kagiso Rabada (2/8), Anrich Nortjé (1/20), Keshav Maharaj (1/0) en Lungi Ngidi (0/5) was nie, was Suid-Afrika diep in die knyp.

“Hulle het met ongelooflike intensiteit geboul. Môre kort ons net ses paaltjies en daarna moet ons met die kolf poog om die foute van die eerste beurt uit te skakel. As ons dit kan doen, kan ons hopelik ’n goeie voorsprong kry.”

Meer oor:  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Dean Elgar  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.