Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
En daar spook Warne toe weer by Engelse

Shane Warne het ná hy jare lank moles teen Engeland gemaak het, weer by die Engelse kom spook op dieselfde krieketveld in Manchester waar hy destyds die “Aflewering van die Eeu” afgestuur het.

Warne (49) het gedurende die toets die deeltydse bybreekbouler Marnus Labuschagne, wat op die laaste dag ’n deurbraak vir Australië gemaak het om die vierde toets te help beklink en die As te behou, onder sy vlerk geneem.

Shane Warne maak Marnus Labuschagne touwys gedurende die vierde toets tussen Engeland en Australië in Manchester. Foto: Getty Images

Warne het die gebore Suid-Afrikaner voor die tweede dag se spel vir sowat ’n halfuur op die middelstrook op Old Trafford ’n paar wenke gegee, wat toe Sondag vrugte afgewerp het.

Die Australiese kaptein, Tim Paine, het met net meer as ’n uur oor en nog twee paaltjies wat benodig word, besluit om te waag en Labuschagne ingespan.

Labuschagne het met sy vyfde bal die paaltjie gekry van Jack Leach en tien balle later was alles oor.

Leach (12, 51 b) en Craig Overton (21, 105 b) het lank vasgeskop in ’n poging om die toets onbeslis te laat eindig en die Engelse in die reeks te hou.

Die 25-jarige Labuschagne het verklap dat sy en Warne se gesprek daaroor gegaan het om ’n bietjie wyer om die paaltjie te kom as hy boul, om homself ’n beter hoek te gee wanneer hy die bal in die verweerde kolle op die blad plant.

“Dit het toe perfek gewerk,” sê Labuschagne.

Die speler wat in Klerksdorp gebore is, sou dalk nie speelkans gekry het in die reeks nie as dit nie was vir die harsingskudding wat Steve Smith in die tweede toets op Lord’s opgedoen het nie. Labuschagne het 59 lopies op die laaste dag in Smith se plek aangeteken. Hy is behou vir die derde toets op Headingley, waar hy 74 en 80 aangeteken het.

Hy het met Smith se terugkeer vir die vierde toets derde gaan kolf en 67 in die eerste beurt, sy vierde agtereenvolgende vyftigtal, aangeteken.

* Engeland se kaptein, Joe Root, meen intussen hy is steeds die regte kaptein vir die span ondanks die feit dat die Engelse onder hom nou ’n tweede agtereenvolgende keer nie die reeks om die As gaan wen nie.

Die Aussies se sege met 185 lopies het aan hulle ’n voorsprong van 2-1 in die reeks besorg.

“Ek wil beslis voortgaan om toetskaptein te wees,” sê Root.

Die Engelse het onder hom met 0-4 in die reeks van 2017-’18 in Australië verloor.

As houer van die As, moes Australië net die reekslouere in Engeland deel om dit te behou.

Hy sê sy span is wat sekere dinge betref nog onervare en dat hulle gou sal moet leer.

“Jy gaan nie baie wedstryde wen as jy so agter raak nie.”

Die vyfde en laaste toets begin Donderdag op die Oval.

Die Aussies hoop nou om die eerste span sedert 2001 te word wat ’n reeks om die As in Engeland wen.

* Bykomende bronne: Reuters, cricket.com.au.

Meer oor:  Old Trafford  |  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië  |  Marnus Labuschagne  |  Tim Paine  |  Shane Warne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.