Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Engeland eenvoudig in ander klas

Suid-Afrika 191/3 (20 bbe.)

Engeland 192/1 (17.4 bbe.)

Engeland wen met 9 paaltjies

Dawid Malan het Engeland met ’n spogbeurt van 99* oor die wenstreep gekry. Foto: Getty Images

Soms is ’n span eenvoudig net nie so goed soos sy teenstander nie. Dis sleg en Suid-Afrika se sportgek publiek weier gewoonlik om dit te aanvaar, maar soms is dit regtig so eenvoudig soos dit. En dit is oukei.

Die Proteas is net nie so goed soos Engeland nie. Engeland is die beste eendagspan in die wêreld en hy is volgens die amptelike ranglys die naasbeste T20-span (met die Australië eerste), maar dié Engelse elftal sal waarskynlik enige span in enige plek in die wêreld klop.

Kyk maar net na daardie topses: Jason Roy, Jos Buttler, Dawid Malan, Jonny Bairstow, Ben Stokes, Eoin Morgan.

Daar is nie ’n beter topses in wêreldkrieket nie.

Malan is waarskynlik die onbekendste naam daar, maar raai wat: Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys, is hy die beste T20-kolwer in die wêreld.

Dit was Dinsdagaand juis hy (99*, 47 b; 11x4, 5x6) en Buttler (67*, 46 b; 3x4, 5x6) wat die skade aangerig het. Sondagaand was dit ook Malan. Vrydagaand was dit Bairstow. En as dit nie een van hulle was nie, sou dit Stokes gewees het. Of Morgan. Of selfs een van die veelsydige spelers – Sam Curran, of Tom Curran.

Die Proteas hoef dus nie skaam te wees oor hul loesing gisteraand en die reeksnederlaag met 0-3 teen die Engelse nie.

Waaroor hulle wel skaam sou moes wees, is as hulle nie teruggeveg het nadat hulle in in die 10de beurt op 64/3 geploeter het nie.

Rassie van der Dussen was Dinsdagaand verwoestend met die kolf. Foto: Getty Images

Maar hulle hét teruggeveg – met Rassie van der Dussen (74*, 32 balle; 5x4, 5x6) en Faf du Plessis (52*, 37 b; 5x4, 3x6) aan die spits. Teen ’n vervlaks goeie boulaanval, met doodsnik-maestros soos Chris Jordan en Jofra Archer in sy geledere, het hulle 84 lopies in die laaste vyf beurte opgestapel. Die Proteas het dus ’n goeie telling in moeilike omstandighede aangeteken.

Daar is wel nog báie aspekte van hul spel om aan te werk – iemand soos Van der Dussen werk byvoorbeeld daaraan om vroeg in sy beurt die slag meer gereeld te roteer. Hy is nie die enigste een wat daarmee sukkel nie.

Wat die boulwerk betref, is die jong Lutho Sipamla (0/45 in 2.4 bbe.) in Kagiso Rabada se afwesigheid in die diepkant ingegooi teen verwoestende kolwers. Hy het gesukkel, maar al die boulers buiten George Linde (0/26 in 4 bbe.) het gesukkel.

Dit was nie die Proteas se beste boulvertoning nie, maar Engeland verdien krediet. Hy het die Proteas se planne met aggressiewe en genadelose kolfwerk ontwrig.

Die Proteas het nog baie werk wat voorlê, maar om met ’n jong span, wat lanklaas saamgespeel het en wat baie beserings en ontwrigtings het, teen die wêreld se voorste witbalspan te verloor, is nie ’n skande nie. Veral nie as jy vir ’n groot deel van die reeks mededingend was nie.

’n Uitsonderlike vertoning sal waarskynlik nodig wees om dié Engelse te klop.

Dinge raak egter ook nie makliker nie. Die Proteas sal Engeland van Vrydag af in die spanne se eendagreeks sonder hul beste bouler moet takel.

Rabada het sy regterheup beseer in die tweede T20-wedstryd en kan vir tot drie weke buite aksie wees.

Rabada sal Woensdag van die groep vrygestel word en die bio-borrel by The Vineyard-hotel in Kaapstad verlaat. Hy sal dan begin met rehabilitasie en voorbereiding vir die toetsreeks teen Sri Lanka, wat op 26 Desember begin.

TELKAART

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.