Sri Lanka se skokkende vertoning met die kolf in sy eerste beurt van die eerste kriekettoets teen Engeland in Galle, het opnuut vrae laat ontstaan oor die Proteas se reeksoorwinning vroeër vandeesmaand.
Ná Suid-Afrika se sukkelende vertonings in toetskrieket die afgelope twee jaar, was daar nuwe optimisme ná die reekssege met 2-0 oor Sri Lanka in die feestyd.

Jack Leach se vyf paaltjies in die tweede beurt het Engeland gehelp om die eerste toets teen Sri Lanka in Galle met sewe paaltjies te wen. Foto: Getty Images
Maar toe wen Engeland Maandag die eerste toets teen Sri Lanka met sewe paaltjies nadat die tuisspan op die eerste dag in net meer as 46 boulbeurte vir 135 lopies uitgehaal is.
Dit was verstaanbaar dat die Sri Lankane met die kolf op die Hoëveld sou sukkel. Hulle is immers glad nie gewoond aan die ekstra wip nie, maar om in hul eie toestande só ’n wind te sluk, was onaanvaarbaar.
Michael Vaughan, voormalige kaptein van Engeland, het op Twitter uitgevaar.
“Daardie 46.1 boulbeurte is die slegste moontlike advertensie vir toetskrieket . . . dit is veronderstel om die hoogste weergawe van die spel te wees . . . dit was ’n gemors,” het Vaughan getwiet.
Dit was duidelik in die reeks teen Suid-Afrika dat met enkele uitsonderings soos Dinesh Chandimal en Dhananjaya de Silva was min van die ander Sri Lankaanse kolwers bereid om te veg vir hul paaltjies.
Elke kolwer het ingestap en begin houe speel soos ’n miljoenêr.
Dit laat mens wonder hoe groot die Sri Lankaanse uitdaging werklik vir die Proteas was?
En dan die opvolgvraag: Hoe goed was die Proteas werklik?
Daar was goeie kolfwerk in die reeks deur Faf du Plessis en Dean Elgar, maar hoe moeilik was dit vir Suid-Afrika om 20 paaltjies teen dié spul te neem?
Die antwoorde op dié vrae wag van volgende week af in Pakistan wanneer die toetsreeks teen die Proteas begin.
Suid-Afrika se boulers gaan bloed sweet op kolfblaaie waar daar bitter min hulp gaan wees.
Veral as mens in ag neem dat die Proteas die laaste vyf of wat jaar gewoond geraak het aan toestande in Suid-Afrika waar daar baie hulp vir die boulers was.
Dit was meestal ’n geval van die bal reg plaas en die blad sal die res doen. Dit is moeilik om te voorspel, omdat die Proteas laas in 2007 toetskrieket in Pakistan gespeel het, maar die geskiedenis wys dat boulers bitter min hulp van die blad kry.
Sri Lanka se kolwers het beter gevaar in hul tweede beurt met die Engelse draaiers, Dom Bess (3/100) en Jack Leach (5/122), wat saam 74.5 boulbeurte moes afstuur om 8/222 te laat kantel.
Engeland (76/3 het Maandag die toets met sewe paaltjies beklink.
TELKAART