Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Engelse tevrede ná KSA se groen lig vir Nuweland

Die Engelse krieketkamp is tevrede met die versekering wat Krieket Suid-Afrika (KSA) hulle gegee het oor die veiligheid by Nuweland se krieketstadion ’n paar dae voor die begin van die tweede toets in Kaapstad.

Die looparea wat ingerig was vir die Mzansi-superliga. Foto: Leighton Koopman

’n Groot deel van Nuweland, aan die Kelvin Grove-kant, is onder konstruksie. Kantore word daar gebou in ’n gesamentlike projek van die Westelike Provinsie Krieketvereniging (WPKV), KSA en Sanlam. Die koste van die projek beloop sowat R750 miljoen.

Daar was vroeër vanjaar verskeie kwessies rondom die konstruksieprojek wat uitgesorteer moes word, met Nuweland wat so byna die Nuwejaarstoets weens die bouwerk kwyt was. Die projek was in ’n stadium ook agter skedule.

Die veiligheid van ondersteuners op Nuweland was ook ’n groot kwessie.

’n Woordvoerder van Engeland het aan Rapport gesê hulle is tevrede met die versekering wat hulle van KSA rondom veiligheid tydens die tweede toets gekry het. Hy het egter bygevoeg dat hulle meer sal uitvind wanneer hulle vandeesweek in die Kaap aankom.

“Daar is geen bekommernisse van die Engelse en Walliese Krieketraad se kant af nie. Ons is tevrede met die waarborge en versekering van KSA met betrekking tot die veiligheid van ons ondersteuners wat na Nuweland reis,” het die woordvoerder gister gesê.

In die eerste paar wedstryde tydens die Mzansi-superliga (MSL) was daar ’n paar veiligheidsaspekte waarna dringend gekyk is.

Die gebied waar bouwerk aan die gang is, is afgesper, maar die looparea van die Spoorweg-paviljoen af verby die graswal wat as die Snake Pit bekend gestaan het, was eers onbedek.

Aflewerings wat vir ses gemoker is, was nie sigbaar nie en het ’n paar keer so byna mense in die gangetjie getref.

Daar is intussen ’n net oor die looparea gesit om ondersteuners te beskerm teen krieketballe wat oor dié deel trek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.