Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Enoch maak stem dik, pos JJ oor fiksheid

Deur JJ Smuts weens gebrekkige fiksheid uit die Protea-groep te pos, het die waarnemende spandirekteur, Enoch Nkwe, ’n duidelike boodskap uitgestuur: As jy voortaan vir jou land wil speel, moet jy die ure op die oefenveld insit.

Jon Jon Smuts is uit die Protea-groep gepos nadat hy nie aan die span se fiksheidstandaarde voldoen het nie. Foto: Gallo Images

Die Proteas het Dinsdag die sogenaamde bliep-toets by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gedoen. Krieket Suid-Afrika (KSA) het Donderdag in ’n verklaring gesê Smuts het nie aan die span se fiksheidstandaarde voldoen nie.

Die veelsydige draaier van die Cape Cobras George Linde sal Smuts dus in die groep vir die drie T20-wegwedstryde later vandeesmaand teen Indië vervang.

Smuts het die Proteas reeds in agt T20-wedstryde verteenwoordig.

George Linde is by die Proteas se T20-groep ingesluit. Foto: Gallo Images

Die 27-jarige Linde is reeds saam met die Suid-Afrikaanse A-span in Indië en sal hom by die Proteas aansluit sodra die span daar land, het KSA in die verklaring gesê.

Hoewel Linde nie deel van die SA A-elftal was wat Donderdag in die vierde eendagwedstryd oplaas ’n sege oor Indië behaal het nie, was dit steeds ’n goeie week vir hom.

Hy was Dinsdag by die spelersloting vir die Mzansi-superliga in Soweto die enigste speler om deur die sogenaamde “reg om aanbod te ewenaar”-klousule deur sy voormalige span behou is.

Die Cape Town Blitz, vir wie Linde verlede jaar gespeel het, het dié reg uitgeoefen nadat ’n ander span Linde wou opraap.

Ashwell Prince, die Blitz se breier, het ná die tyd gesê hulle moes eenvoudig verseker Linde gaan nie vir hulle verlore nie.

“George is meer as net ’n linkshandige draaier. Ons slaan hom hoog aan as ’n middelordekolwer wat die bal hard kan slaan,” het Prince gesê.

Hoewel Linde nie Donderdag vir die SA A-span in aksie was nie, het hy Saterdag in die tweede eendagwedstryd ’n onoorwonne vyftigtal geslaan en 1/21 in drie beurte platgetrek.

Die drie T20-wedstryde vind plaas op 15 September in Dharamsala, 18 September in Mohali en 22 September in Bengaluru.

* Die Proteas se T20-groep is: Quinton de Kock (k), Rassie van der Dussen (o-k), Temba Bavuma, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, David Miller, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, George Linde.

Meer oor:  T20  |  Proteas  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.