Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf: ‘Dalk moet ons vir KG ’n streep trek’

Joe Root het nie ’n probleem gehad met die wyse waarop Kagiso Rabada in sy gesig gevier het toe dié Suid-Afrikaanse blits die Engelse kaptein vroeg in die derde toets in Port Elizabeth skoongeboul het nie. 

Rabada is ’n strafpunt vir sy uitbundige viering opgelê en omdat hy reeds drie strafpunte vir vorige oortredings het, sal hy die vierde toets, van Vrydag af in Johannesburg, misloop.

Kagiso Rabada is in die moeilikheid nadat hy sy paaltjie teen Joe Root uitbundig gevier het. Foto: Getty Images

“Nee, ek het nie ’n probleem daarmee gehad nie,” het Root Maandag gesê nadat sy span die toets met ’n beurt en 53 lopies gewen het. 

“Hy was uiteraard nogal naby aan my en daar is besluit dat hy buite orde was. 

“Ek wou net seker maak dat ek nie in die moeilikheid kom deur daarop te reageer nie. Gelukkig het ek my mond gehou, geduldig gewag dat hy klaarmaak en toe weggestap.” 

Rabada het Root met ’n skitterbal geboul, wat van die naat inbeweeg het en ietwat laag gebly het. Hy het uitbundig gejubel en voor Root gaan staan, op sy hurke gesak en met gebulte armspiere uiting aan sy emosies gegee.

“As ek nou enigiets daaroor sou sê, gaan dit iemand in die moeilikheid laat beland, so ek hou my mond,” sê Root.

“Die belangrikste is dat ons die besluite wat geneem word, respekteer en seker maak ons plaas onsself nie in posisies waar ons wedstryde misloop weens dinge soos om te vier nie.” 

Root maak nie eens ’n geheim daarvan dat dit Engeland sal baat dat Rabada nie gaan speel nie.

“Dit is uiteraard ’n bonus. Hy is ’n speler van wêreldgehalte.” 

Sy eweknie van die Proteas, Faf du Plessis, is dit met hom eens. “In toetskrieket het jy ervaring nodig en om vir KG te verloor, maak dinge moeilik vir my en die span.

“Ek sou nie sê hy het die span in die steek gelaat nie, want ons wil dit sien, hy moet net ’n manier vind om binne die reëls te bly. Een meter verder van die kolwer af, trek vir hom die streep om te sê bly daar.” 

Ons vra hom om emosie te wys. Hy wil baklei en Suid-Afrika se gees wys en dan word dit weens ’n viering weggeneem.
Faf du Plessis

Dit is duidelik ’n patroon. Rabada het in Januarie en in Maart 2018 drie keer in die sop beland nadat hy paaltjies gevier het.

“KG is op sy beste wanneer hy opgesweep is. Hy is ’n uitstekende bouler wanneer hy in ’n stryd met die kolwer gewikkel is. Ons het dit gesien. Hy het ’n groot paaltjie vir ons gekry.

“Joe Root is ’n uitstaande speler en om hom uit te kry, het baie vir KG beteken. Dit is die probleem. 

“Ons vra hom om emosie te wys. Hy wil baklei en Suid-Afrika se gees wys en dan word dit weens ’n viering weggeneem. 

“Dit is in die reëls van die Internasionale Krieketraad (dat jy nie ’n kolwer kan uitlok nie). Dit is teleurstellend, want nou het ons ’n baie belangrike toets sonder ons beste bouler.” 

Du Plessis hoop Vernon Philander (0/41), wat slegs 16 uit die 152 boulbeurte in Engeland se beurt in Port Elizabeth geboul het, kan in Rabada se afwesigheid die voorslagbouler in Johannesburg wees. 

“Hopelik is daar iets in die blad vir Vernon, want hy was ondoeltreffend op dié blad wat te stadig vir hom was.”

Beuran Hendricks kan Rabada in Johannesburg vervang. Lungi Ngidi is tans saam met Sisanda Magala, Jon-Jon Smuts en Tabraiz Shamsi op ’n kondisioneringskamp in Pretoria. 

Hy het van sy besering herstel, maar is nie wedstrydfiks nie en die kanse is dus skraal dat hy oorweeg sal word. 

Meer oor:  Joe Root  |  Kagiso Rabada  |  Faf Du Plessis  |  Toetskrieket  |  Kriekettoer  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Engeland  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.