Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf du Plessis reis dalk tog na Windies
Faf du Plessis is glo nie uitgesluit van ’n plek in die T20-Wêreldbekerspan nie. Foto: Getty Images

Faf du Plessis is weggelaat uit die Protea-toergroep na die Wes-Indiese Eilande omdat hy nie ’n kontrak met Krieket Suid-Afrika (KSA) het nie, maar hy kan hom wel binnekort by die span aansluit vir die T20-reeks.

Dié reeks begin op 26 Junie.

Onderhandelinge is reeds aan die gang met Du Plessis, wat uit toetskrieket getree het en wat deesdae as ’n sogenaamde “vrye agent” beskou word.

As hy die toer sou meegemaak het, sou hy geen vergoeding behalwe wedstrydgeld ontvang het nie. 

Du Plessis, wat goed in die Indiese Premierliga vertoon het totdat dit weens Covid-19 opgeskort is, kan sy plek in die nasionale T20-span vir die komende Wêreldbekertoernooi vasmessel deur in die Windies te speel.

Maar eers sal die keurders moet instem om Du Plessis se naam by die spanlys te voeg – mits hy tot ’n spesiale vergoedingspakket instem.

KSA het vir 17 nasionale manskontrakte begroot en net 16 toegeken.

Daar word bespiegel dat ’n deel van die bykomende salarispakket aan Du Plessis kan gaan.

Die nasionale keurders het luidens gerugte sterk standpunt teen vrye agente ingeneem, maar die sameroeper van die keurders, Victor Mpitsang, het Vrydag aan Rapport gesê Du Plessis is nie uitgesluit nie.

“Faf is steeds ’n briljante speler met ’n wonderlike vertoningslys in T20-krieket.  

“Hy is nie uitgesluit van ’n plek in die T20-Wêreldbekerspan nie, maar daar is ’n maand gelede besluit dat alle vrye agente in plaaslike reekse moet speel om in aanmerking te kom vir die Proteas.

“Die mense praat gereeld oor die Windies en hul vrye agente, maar hulle keer almal terug en speel in die Karibiese Premierliga. Ons moet regverdig wees,” het Mpitsang gesê.

Plaaslike nasionale kontrakte word toegeken volgens ’n ranglys van 1 tot 16 en neem toets-, eendag- en T20-wedstryde volgens wetenskaplike data in ag.

AB de Villiers het voor die opskorting van vanjaar se IPL met die kolf uitgeblink vir die Royal Challengers Bangalore. Foto: IPL

Maar vrye agente val buite hierdie beleid.

Dit is nog een van die talle probleme wat Graeme Smith as direkteur van krieket geërf het.

Gevalle soos dié van Du Plessis gaan al hoe meer voorkom.

Sommige meen daar moet gewaak word dat vrye agente nie die Proteas gebruik om elders finansieel voordelige T20-kontrakte los te slaan nie, want hulle moet ’n bydrae tot die nasionale span se kultuur en welslae maak.

Die gevaar bestaan ook dat spelers kontrakte kry, maar dan kan besluit om hul rûe op toetskrieket te keer en slegs witbalkrieket te speel.

Aan die ander kant het die Proteas topspelers nodig teen wie die ander spanne wil speel en wat toeskouers sal lok.

Ander vrye agente wat nie tans vir die Proteas se T20-span speel nie, is AB de Villiers, Imran Tahir en Chris Morris. De Villiers was met sy supersterstatus geoormerk om in die T20-Wêreldbekertoernooi te speel, maar hy het kop uitgetrek.

Daar is beslis ’n leemte in die Proteas se onervare kolflys as Du Plessis nie daar is nie.

Hy het reeds te kenne gegee dat hy in 2022 in Australië in die Wêreldbekertoernooi (eendagkrieket) wil speel.

Hoewel die 36-jarige Du Plessis nie kommentaar wou lewer hoekom hy nie aanvanklik in die toerspan na die Wes-Indiese Eilande ingesluit was nie, het hy wel laat blyk dat dit ’n kontraktuele kwessie was.

Rapport verneem dat Smith in samewerking met die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging (Saca) probeer om ’n langtermyn-oplossing vir die tameletjie te vind. 

Meer oor:  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.