Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Ek gaan nie in stryd met Temba tree’

Temba Bavuma se weglating uit die Protea-toetsspan was skaars aangekondig, toe steek ’n nuwe argument op die vuil strate van Twitter sy kop uit: Temba teen Faf.

Temba Bavuma en Faf du Plessis word teen mekaar opgeweeg op sosiale media. Foto: Gallo Images

Ondersteuners van Bavuma wat kwaad was omdat hy nie ná sy heupbesering by die span ingesluit is vir die tweede toets teen Engeland nie, het daarop begin wys dat Faf du Plessis, die kaptein, ook nie onlangs te waffers gevaar het nie.

Hoekom word Du Plessis dan nie gepos nie, wou hulle weet, met ’n rasse-ondertoon duidelik teenwoordig.

Die Protea-kaptein het Woensdag in Port Elizabeth op die vooraand van die derde toets teen die Engelse gesê hy gaan nie tot die Temba-teen-Faf-stryd toetree nie.

“As jy al so lank internasionale krieket speel soos ek, word jy gewoond aan (geraas van buite). Daar is media aan jou kant en media teen jou. Om te veel daarin te lees, vir óf teen . . . Dit is belangrik om nie te veel daarby ingetrek te word nie,” sê Du Plessis.

“Die verskil tussen spelers wat lank en spelers wat kort internasionale krieket speel, gaan oor hoe goed hulle geestelik die druk kan hanteer wat daarmee gepaardgaan.”

Diegene wat teen Du Plessis argumenteer, wys op tellings van 19, 1, 20, 29, 4, 1 en 5 in sy laaste sewe beurte. Hulle vergeet gerieflik dat hy in die vyf toetse voor dit 64, 55, 50*, 90 en 103 aangeteken het. Hy het ook al nege toetshonderdtalle teen ’n gemiddeld van 40.62 aangeteken. Hierteenoor het Bavuma ’n gemiddeld van 31.24 met een honderdtal.

“Ek gaan nie ’n stryd betree tussen myself en Temba oor wie speel en wie nie speel nie,” sê Du Plessis.

“My vertonings moet ook verbeter wat betref om lopies te slaan. Temba is in ’n posisie geplaas waar hy lopies moet aanteken vir hom om terug in die span in te kom.” Bavuma se twee tellings by die Lions sedert hy teruggestuur is franchise-krieket toe, was 9 en 17.

Vir ’n jong span om die vertonings in te sit wat ons in die laaste twee toetse het, dui op baie goeie tekens.
Enoch Nkwe

Op sosiale media is daar ’n sigbare kloof: Diegene wat glo Du Plessis moet ook soos Bavuma gepos word, en diegene wat voel Du Plessis verdien steeds sy plek in die span.

Daar is verdeeldheid, maar in die Protea-kleedkamer is daar eenheid.

Enoch Nkwe, wat in Oktober nog die Proteas se waarnemende breier was, maar toe Mark Boucher se hulpafrigter gemaak is, het dít Dinsdag gesê en Du Plessis het dit Woensdag beaam.

“Ons is so naby aan mekaar soos wat ons nog altyd was. Daar is ’n visie en ’n duidelike rigting waarin ons wil beweeg. Die geraas van buite sal altyd daar wees.

“Dit is amper goeie stories (vir die media) om te lees dat dinge nié goed gaan nie, dat daar probleme in die kamp is, maar ek kan jou waarborg daar is geen sulke probleme nie.

“Vir ’n jong span om die vertonings in te sit wat ons in die laaste twee toetse het, dui op baie goeie tekens. Van waar ons in Indië was, om nou hier te wees, wys ons is in die regte rigting op pad.

“Ek en Bouch het dit al verskeie kere gesê: Dit gaan nie oornag gebeur nie. Ons moet ons spelers meer ervare kry en dan kan ons in ’n jaar of twee weer een van die topdrie-spanne in die wêreld wees.”

Meer oor:  Mark Boucher  |  Temba Bavuma  |  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe  |  Port Elizabeth  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.