Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Faf en Kagiso terug in T20-groep

Hy is nie meer as die kaptein deel van die Suid-Afrikaanse krieketspan nie, maar Faf du Plessis is steeds goed genoeg om deel van die span te wees.

Hy is Maandag saam met die snelboulers Kagiso Rabada en Anrich Nortjé ingesluit by die T20-groep wat drie kragmetings teen Australië gaan hê.

Kagiso Rabada op die oefenveld. Foto: Gallo Images

Dié drietal se insluiting beteken daar is nie meer plek vir Reeza Hendricks, Beuran Hendricks en Sisanda Magala van die groep wat teen Engeland diens gedoen het nie.

Du Plessis, Rabada en Nortjé was in die toetsgroep wat teen Engeland gespeel het, maar hulle is toe ruskans vir die eendag- en T20-reekse teen die Engelse gebied.

Die Knights se Pite van Biljon behou sy plek, al het hy nie enige speelkans teen Engeland gekry nie.

Bjorn Fortuin, Jon-Jon Smuts en Heinrich Klaasen, wat ook beperkte speelkans gekry het, word ook weer ’n kans teen die Aussies gegun.

Linda Zondi, die nasionale keurderbaas, sê ondanks die T20-reeksnederlaag van 1-2 teen die Engelse is hy baie optimisties oor die groep spelers en hy het veral die kolfwerk geloof.

“Dit was bevredigend om die kolwers so goed op dreef te sien. Hulle het aggressief te werk gegaan, veral in die eerste klompie beurte en ’n goeie grondslag gelê.

“Ons is vol vertroue dat Kagiso en Anrich se terugkeer die hupstoot sal wees wat die boulwerk nodig het en die ervaring van Faf sal ’n ekstra dimensie aan die kolflys verleen,” sê hy.

Hoewel die moontlikheid goed is dat AB de Villiers dalk kon terugkeer, is daar geen teken van hom nie. Daar word bespiegel dat hy dalk ná die Indiese Premierliga (IPL) in ’n aantal wedstryde vir die nasionale span kan speel om homself sodoende vir die T20-Wêreldtoernooi later vanjaar in Australië beskikbaar te stel.

Mark Boucher, die SA afrigter, het Sondag in Centurion gesê hy wil die beste spelers na die Wêreldtoernooi neem en as De Villiers die beste speler vir die taak is, is daar by hom geen twyfel dat hy beskikbaar moet wees nie.

“Dit gaan nie oor ego’s nie, maar om ’n span bymekaar te kry wat die toernooi kan wen. Daar is nog sekere vrae oor hierdie span en hul vermoëns wat beantwoord moet word,” het Boucher gesê.

Johann de Jager berig dat Van Biljon weens ’n handbesering nie vir een van die Proteas se T20-wedstryde teen Engeland oorweeg kon word nie.

Hy is die dag voor die eerste wedstryd in Oos-Londen beseer toe vangskote geoefen is. Hy het geduik om ’n bal te vang wat kort geval het en het ’n sny tussen twee vingers aan sy linkerhand opgedoen. Die drie steke word Dinsdag uitgehaal.

Protea-groep: Quinton de Kock (k, Titans), Temba Bavuma (Lions), Faf du Plessis (Titans), Rassie van der Dussen (Lions), David Miller (Dolphins), Pite van Biljon (Knights), Dwaine Pretorius (Lions), Andile Phehlukwayo (Dolphins), Jon-Jon Smuts (Warriors), Kagiso Rabada (Lions), Tabraiz Shamsi (Titans), Lungi Ngidi (Titans), Bjorn Fortuin (Lions), Anrich Nortje (Warriors), Dale Steyn (Titans), Heinrich Klaasen (Titans).

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.